Immergroen Ingram steeds ʼn krieketkrag

Colin Ingram. Foto: Asif Hassan/AFP.

Wanneer ʼn mens eendag Colin Ingram se internasionale krieketloopbaan in oënskou neem, sal jy in alle waarskynlik dink dat hy een van dáárdie spelers is – iemand wat genoeg geleenthede gekry het, maar nooit juis die wêreldverhoog aan die brand gespeel het nie.

In sy 31 eendagwedstryde vir die Proteas het die Oos-Kapenaar 843 lopies teen ʼn gemiddeld van net meer as 32 geslaan, terwyl hy in net nege internasionale T20-wedstryde in aksie was.

Die feit dat die Suid-Afrikaanse keurders hom destyds met ʼn klimtol verwar het, het seker ook nie veel gehelp nie.

Daar was nooit juis enige kolfstandvastigheid nie en hy het in die een wedstryd die kolfwerk geopen, net om in die volgende kragmeting sy naam sewende op die kolflys te lees.

“Ek glo dat ek my kant op die internasionale verhoog gebring het. Die was egter nie my eerste keuse om die kolfwerk te open nie en boonop het ek terselfdertyd teen baie goeie boulers te staan gekom. Dit was ʼn moeilike tydperk vir my – ek het nooit ʼn kans gekry om ʼn spesifieke posisie my eie te maak nie en ek het gevoel dat daar maar min ondersteuning was,” het Ingram destyds gesê.

Nodeloos om te sê, hy het in 2015 die Kolpak-roete gevolg en nou – op 37-jarige ouderdom – het hy sy kontrak met Glamorgan met ʼn verdere twee jaar verleng.

Hy was die span se voorste lopiemaker in die onlangse graafskap-kampioenskap (596 lopies teen ʼn gemiddeld van 66,22) terwyl hy jaarliks ʼn kolos in mik-en-mokerwedstryde is.

“Is Colin Ingram ons beste witbalkrieketspeler nóg,” het Glamorgan onlangs op sosiale media gevra.

En net soos wat Shakira aanvoer dat hips don’t lie, is die voormalige Proteaspeler se vertonings vir Glamorgan hoegenaamd nie ʼn wolhaarstorie nie.

Hy het reeds drie T20-honderdtalle vir die span geslaan, terwyl hy sy eendagkrieketlopies teen ʼn puik gemiddeld van 67 slaan.

“Colin se spelpeil is doodeenvoudig net ongelooflik en dit lyk asof hy met elke wedstryd beter word. Almal weet dat hy ʼn briljante witbalkrieketspeler is, maar sy onlangse vertonings in die meerdaagse reeks was fantasties,” het Mark Wallace, Glamorgan se direkteur van krieket, gesê.

ʼn Bietjie meer standvastigheid hier en ʼn bietjie meer geleenthede daar, en Colin Ingram kon dalk ook met ʼn baie suksesvolle internasionale loopbaan gespog het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SwartBees ·

Sy vel is te bleek en sy talent is te goed. Hy het nie die Bakers development krieket kursus bygewoon nie.

George ·

Hy het bitter baie kans gehad. Hy is n baie goeie speler, op county vlak, hy is net nie opgewasse vir Internationale krieket nie, en dis bewys. Net soos Levi van die Cobras, fantasties in provinsiale krieket, maar below avg op internationale vlak.

JohanEtz ·

Vreemd dat “wit”balkrieket nie ook getransformeer word nie….LOL

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.