Is Faf dalk tog ’n moet vir T20-beker?

Faf du Plessis kan steeds aanvallend kolf. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Toe Faf du Plessis in Februarie sy uittrede uit toetskrieket aangekondig het, het hy gesê dat hy die Proteas nog met hul T20-veldtogte, en veral die komende Wêreldbeker-toernooi, sal wil uithelp.

“Ek weet dat ek nog baie het om vir die Proteas in hierdie formaat te bied. Dit beteken nie dat ek nie meer eendagkrieketplanne het nie, T20-krieket is net tans die hoofprioriteit,” het Du Plessis destyds gesê.

Tog is Suid-Afrika se oudkaptein nie deel van die T20-groep wat in September na Sri Lanka toer nie. Victor Mpitsang, nasionale keurderbaas, het egter gesê dat hulle nog in verbinding met Du Plessis is.

“Faf was beskikbaar vir die toer na Sri Lanka, maar die keurders het dit goedgedink dat die spelers wat Suid-Afrika in die onlangse reekse verteenwoordig het, meer ondervinding in dié toestande moet opdoen,” het Mpitsang gesê.

Hy het bygevoeg dat Du Plessis vir die Wêreldbeker-toernooi in die Verenigde Arabiese Emirate oorweeg sal word.

Du Plessis in aksie vir die Chennai Super Kings. Foto: Twitter.

Maar watter waarde kan Du Plessis tot Suid-Afrika se T20-spanne voeg? Hulle het dan die afgelope reekse teen die Windies en Ierland gewen? En moet ’n mens nie ’n span vir die toekoms bou nie; Faf is immers al 37 jaar oud?

Ja, maar ’n toekoms sal baie meer rooskleurig lyk as die Proteas uiteindelik met ’n belangrike internasionale trofee in hul vertoonkas spog. En buitendien, as Quinton de Kock deesdae nie lopies slaan nie, lyk die Suid-Afrikaanse kolflys baie broos.

Du Plessis het al 50 T20-wedstryde vir die Proteas gespeel waarin hy 1 528 lopies teen ’n top-treftempo van ongeveer 135 geslaan het. Daarbenewens het hy al wêreldwyd gespeel en sy ervaring sal van onskatbare waarde wees.

In sy laaste T20-wedstryd vir Suid-Afrika het hy ’n onoorwonne vyftigtal teen Engeland gemoker en hy is ongetwyfeld nog goed genoeg vir internasionale krieket.

Toe die Indiese Premierliga – die toernooi wat ongelooflike T20-krieket opdis – vroeër vanjaar opgeskort is, was Du Plessis een van die voorste kolwers. In sewe beurte vir die Chennai Super Kings het hy sy lopies teen ’n gemiddeld van 64 geslaan.

Hy is steeds een van die beste veldwerkers in wêreldkrieket. Foto: Twitter.

En al is hy nou aan die “verkeerde kant” van 35, behoort hy steeds die Proteas se beste veldwerker te wees.

Of hy egter gekies gaan word, is ’n vraag waarop ons almal eintlik al die antwoord ken …

Nie almal se hoofprioriteite is dieselfde nie.

  • Du Plessis se eersterangse T20-statistieke: In 248 wedstryde het hy 6 255 lopies teen ’n gemiddeld van 30,66 en ’n treftempo van 128,80 geslaan. Hy het terselfdertyd ook 130 vangskote benut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Du Plessis sal nie gekies word nie en ek weet hoekom nie.Hoe suksesvol was Bavuma op toer.

Andre ·

Bavuma mag dalk n mediocre krieket spelers wees, maar nie kaptein materiaal nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.