Kaptein Faf speel ’n barshou vir RCB

Faf du Plessis het gisteraand 96 lopies teen Quinton de Kock se Lucknow Super Giants geslaan. Foto: Twitter.

Hy mag dalk al amper 38 jaar oud wees, maar Faf du Plessis het gisteraand in die kleure van die Royal Challengers Bangalore gewys dat hy steeds een van die gevaarlikste T20-kolwers ter wêreld is.

Die voormalige Protea-kaptein het 96 lopies van slegs 64 aflewerings teen die Lucknow Super Giants gemoker en sy beurt het 13 grenshoue (waaronder twee sesse) ingesluit.

Kom ons plaas net vinnig Du Plessis se blitsbeurt in perspektief: Virat Kohli is met die eerste bal wat hy trotseer het uitgevang, terwyl nie een van RCB se ander kolwers meer as 26 lopies kon aanteken nie.

Tog het Bangalore 181/6 in hul toegelate 20 boulbeurte aangeteken, waarna Josh Hazlewood (4/25) onder die die Lucknow-kolwers baljaar het.

Quinton de Kock is vir slegs drie lopies uitgehaal en die Super Giants is tot 163/8 beperk.

“Ek kon nog nie ’n honderdtal in die Indiese Premierliga aanteken nie, maar ek glo daar wag een om die draai,” het Du Plessis gesê nadat hy sy speler van die wedstryd- toekenning in ontvangs geneem het.

Die Suid-Afrikaner is vroeër as RCB se kaptein vir die seisoen aangewys nadat Kohli aangedui het dat hy nie meer bereid is om die span op die veld te lei nie.

Volgens die jongste punteleer is Bangalore die naasbeste span in die toernooi.

“Ek was uitgehonger vir lopies en ek wou graag ’n goeie bydrae gemaak het; veral omdat ek maar stillerig in die laaste paar wedstryde was.”

Du Plessis het in sewe beurte 250 lopies teen ’n gemiddeld van 35,71 en ’n treftempo van 132,27 geslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.