Khawaja, Smith slaan Proteas fyn en flenters

Usman Khawaja (195*) het saam met Steve Smith (104) en Travis Head (70) gesorg dat die Aussies 475/4 ná die tweede dag van die derde toets teen die Proteas op die telbord het. Foto: Twitter.

Die reeks is reeds in die vorige toets in Melbourne gehensop en nou – met niks meer as trots op die spel in Sydney nie – moet die Proteas weer eens vir Everest uitklim.

Teen uitskeityd het Australië  ʼn allemintige 475/4 op die telbord gehad. Dit is meer lopies as wat die sukkelende Suid-Afrikaanse kolwers deesdae in drie beurte kan aanteken.

Usman Khawaja is onoorwonne op 195 lopies, terwyl Steve Smith (104 lopies) nóg ʼn toetshonderdtal aangeteken het.

Die oudkaptein is nou vierde op die Aussies se lys van toplopiemakers, terwyl hy ook die legendariese Donald Bradman op die honderdtallys verbygesteek het.

Smith het vandag sy 30ste honderdtal geslaan, terwyl Bradman – wat met ʼn kolfgemiddeld van 99,94 gespog het – 29 honderdtalle in sy roemryke loopbaan aangeteken het.

Almal het vooraf geweet dat die Protea-kolwers sou sukkel om die mas op te kom, maar die meeste krieketliefhebbers het geglo dat die Suid-Afrikaanse boulaanval darem hul man teen die Aussies sou kon staan.

Die Australiese pers het dit selfs uitbasuin dat Kagiso Rabada, Lungi Ngidi, Marco Jansen en Anrich Nortjé die sterkste besoekende boulereenheid nóg is wat teen die tuisspan kom kragte meet het.

Die Suid-Afrikaners se reputasie het weliswaar geen skade op die groen mamba van die Gabba-krieketveld in Brisbane gely nie, maar hulle het in Melbourne gesukkel terwyl die wind heeltemal uit hul seile in Sydney geslaan is.

Benewens Nortjé, wat weer eens met sy vaart en leeuemoed beïndruk het, het die res van die boulers hoegenaamd nie vir Khawaja en kie gepla nie.

Rabada het ʼn paar foutballe afgestuur en hy het meer as vier lopies per boulbeurt afgestaan, terwyl Keshav Maharaj ook lopies op ʼn skinkbord weggegee het.

Dan is Dean Elgar se leierskapvertoning ook onder die vergrootglas.

Sy kritici meen dat hy eerder op ʼn kolwer se houe reageer as om daadwerklike planne te beraam om hom uit te haal, terwyl hy ook nie sy boulers reg bestuur nie.

Om alles in ʼn neutedop saam te vat: Die Proteas sukkel. En hulle sukkel lelik.

Net soos Talana op Die Real Housewives van Pretoria is die Suid-Afrikaners ook besig om deur ʼn vuur in Sydney te stap. Maar hulle is wragties baie ver daarvan af om hul goud te gaan haal.

  • Opsomming van telkaart:

Australië 475/4 ná 131 boulbeurte: Usman Khawaja 195*, Steve Smith 104 en Anrich Nortjé 2/55.

  • Meeste lopies vir Australië:
  1. Ricky Ponting (1995 – 2012): 13 378 lopies
  2. Allan Border (1978 – 1994): 11 174 lopies
  3. Steve Waugh (1985 – 2004): 10 927 lopies
  4. Steve Smith (2010 tot nou): 8 647 lopies
  5. Michael Clarke (2004 – 2015) 8 643 lopies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Oppiestoep ·

Skande op skande ek dink laerskool helpmekaar se 3de span sal die verlepte proteas pakslae gee!!

Milestone ·

Ek erken, eerlik en met hartseer, dat krieket nie meer ‘n sport is wat ek volg nie.

Koen ·

Maar tog lees jy die berig en lewer kommentaar. Dis nie ‘n lughawe nie. Jy hoef nie jou exit te announce nie. Gaan net.

Dup ·

Ai tog,die krake begin nou duidelik te wys en die Protea se blare val een e vir een af.Politiek en sport meng nie.

piet ·

7 wit spelers in die span, hoekom perform hulle nie? Jou kwaliteit is nog nie gemeet voor jy nog nie teen Australie gespeel het nie. Dieselfde storie met rugby as jy nog nie teen NS gespeel het nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die franchise krieket is substandaard. Dààr begin die probleme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.