Kiwi’s, Conway klap Aussies

Devon Conway. Foto: Marty Melville/AFP.

Nieu-Seeland het vandag die vyfde en laaste T20-kragmeting teen Australië met sewe paaltjies in Hamilton beklink. Sodoende het hulle die reeks met 3-2 gewen.

Australië het goed gelyk met hul telling op 74/1, maar bobaas-boulwerk deur Ish Sodhi (3/24) en Trent Boult (2/26) het beteken dat hulle tot 142/8 in hul toegelate 20 boulbeurte beperk is.

Daarna het Martin Guptil (71 van 46 balle) en Glenn Phillips (34 van 16 balle) gesorg dat die Kiwi’s die wedstryd binne 16 boulbeurte gewen het.

Die Suid-Afrikaans gebore Devon Conway het weer eens sy stem dik gemaak – hierdie keer as openingskolwer.

Hy het 36 van 28 aflewerings geslaan en het die reeks as die derde voorste lopiemaker afgesluit.

Conway het 192 lopies teen ’n gemiddeld van 48,00 geslaan, maar dit is veral sy treftempo wat kenners laat regop sit: 140,14 teen ’n sterk boulaanval is glad nie te versmaai nie.

Die 29-jarige hotklou-kolwer is in Johannesburg gebore en hy het ook krieket vir die Gautengse provinsiale span gespeel. Hy het egter verlede jaar sy Nieu-Seelandse verblyfreg gekry en is onmiddellik ’n nasionale kontrak aangebied.

“Sedert hy sy verskyning in Nieu-Seeland so ’n paar seisoene gelede gemaak het, tel hy gereeld onder die voorste lopiemakers in die reekse waarin hy speel. Dit is indrukwekkend om te sien – ’n kolwer wat met sy vertonings die deur van nasionale erkenning oopforseer,” het Luke Ronchi, die Kiwi’s se kolfafrigter gesê.

Reeks-uitslae:

  • Eerste T20-wedstryd: Nieu-Seeland wen met 53 lopies
  • Tweede T20-wedstryd: Nieu-Seeland wen met vier lopies
  • Derde T20-wedstryd: Australië wen met 64 lopies
  • Vierde T20-wedstryd: Australië wen met 50 lopies
  • Vyfde T20-wedstryd: Nieu-Seeland wen met sewe paaltjies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.