Kiwi’s soek WB-weerwraak teen Engelse

Matt Henry vier die paaltjie van Jos Buttler. (Foto: Sajjad Hussain/AFP)

Vier jaar gelede het Engeland op dramatiese wyse die Wêreldbeker in ʼn super‑boulbeurt teen Nieu-Seeland op Lord’s gewen.

Nou is die Engelsmanne en Kiwi’s weer slaags in die openingswedstryd van die jongste weergawe van die toernooi.

En ná die eerste kolfbeurt in Ahmedabad kan die Nieu-Seelanders hulself ʼn klop op die skouer gee: Hulle het Engeland se sterk kolfspan tot 282/9 in die toegelate 50 boulbeurte beperk.

Hoewel van die Bleekbeen-kolwers hul lopies teen ʼn vinnige tempo aangeteken het – lees Harry Brook en Jos Buttler – het die Swartpette gereeld paaltjies geneem om hul telbordmomentum in die spoor te stuit.

Joe Root (77 lopies van 86 balle) was Engeland se topkolwer, maar hy is deur Glenn Phillips skoongeboul.

Die 26-jarige Phillips is in Oos-Londen gebore, maar hy het op ʼn jong ouderdom saam met sy ouers na Nieu-Seeland verhuis en hy het al 20 eendagwedstryde vir die Kiwi’s gespeel.

Matt Henry (3/48) was egter die Nieu-Seelanders se beste bouler en hy het die belangrike paaltjies van Dawid Malan en Buttler laat kantel.

Phillips het ná die Engeland-beurt gesê dat die blad beter vir kolfwerk kan word en die Kiwi’s sal onder meer na die flitsende kolwe van Devon Conway en Daryl Mitchell kyk om wa deur die drif te trek.

Engeland het egter ʼn magdom boulers tot sy beskikking.

Benewens die vaardighede van Chris Woakes, Adil Rashid, Mark Wood en Sam Curran, kan Liam Livingstone, Moeen Ali en Root ook ingespan word.

Ben Stokes het egter nie voldoende van sy heupbesering herstel nie en moet die aksie van langs die veld dophou.

  • Spanne:

Engeland: Jonny Bairstow, Dawid Malan, Joe Root, Harry Brook, Moeen Ali, Jos Buttler (kaptein), Liam Livingstone, Sam Curran, Chris Woakes, Adil Rashid en Mark Wood.

Nieu-Seeland: Devon Conway, Will Young, Rachin Ravindra, Daryl Mitchell, Tom Latham (kaptein), Glenn Phillips, Mark Chapman, James Neesham, Mitchell Santner, Matt Henry en Trent Boult.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.