Klaasen lewer supersoniese beurte

Heinrich Klaasen het weer op alle suiers vir die Durban’s Super Giants gevuur. (Foto: X/DSG)

Dit lyk tans of spanne hul storie sal moet ken om die Durban’s Super Giants in die SA20-toernooi te klop.

Danksy die flitsende kolwe van Matthew Breetzke, Quinton de Kock, JJ Smuts en Heinrich Klaasen spog hulle met meer as genoeg wilgerlatplofkrag, terwyl Reece Topley, Noor Ahmad en Keshav Maharaj gereeld paaltjies laat kantel.

Die Durbaniete het die Paarl Royals met 125 lopies op Kingsmead oorrompel met die einste Breetzke en Klaasen se kanonkolwe wat die praatwerk gedoen het.

Breetzke het die bal aan die rol gesit met sy blitsige 78 lopies, waarna Klaasen vir die afrondingswerk met ʼn supersoniese vyftigtal van slegs 17 aflewerings gedoen het.

Die 32-jarige Klaasen is ongetwyfeld een van die gevaarlikste witbalkrieketspelers – nie net in Suid-Afrika nie, maar ook op die internasionale verhoog.

Hy slaan sy 280 SA20-lopies teen ʼn gemiddeld van amper 47 en ʼn ongelooflike treftempo van 207,40.

Dan maak Ahmad dinge moeilike vir enige kolwer; ongeag of jy in die toporde speel of ʼn stertkantkolwer is.

Die Afghaanse draaier het ʼn paar weke gelede sy 19de verjaardag gevier sy goëlaflewerings beteken dat hy steeds paaltjies as verjaardaggeskenke kry.

Hy spog met ʼn uitstekende boulontleding van 5/11 teen die Royals en hy het reeds 83 paaltjies in sy jong T20-loopbaan geneem.

  • Opsomming van die telkaart:

Durban’s Super Giants 208/7 in 20 boulbeurte: Matthew Breetzke 78, Heinrich Klaasen 50* en Tabraiz Shamsi 2/20.

Paarl Royals 83/10 in 13,2 boulbeurte: Mitchell van Buuren 36*, Noor Ahmad 5/11 en Keshav Maharaj 2/23.

  • Punteleer:
  1. Durban’s Super Giants: 28 punte ná agt wedstryde
  2. Paarl Royals: 22 punte ná agt wedstryde
  3. Sunrisers Eastern Cape: 19 punte ná sewe wedstryde
  4. Pretoria Capitals: 10 punte ná sewe wedstryde
  5. MI Cape Town: 9 punte ná sewe wedstryde
  6. Joburg Super Kings: 8 punte ná sewe wedstryde

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elmarie ·

Johann Gresse ek geniet joy berig net soveel as die krieket self! Wilgerlatplofkrag – man, wat ‘n lekker beskrywende woord om die kolwers se slaanwerk te beskryf!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.