Krieket: Die Proteas se wenlopie eindig dramaties

Lungi Ngidi. Foto: AP Photo/Eranha Jayawardena

Suid-Afrika het Woensdag in sy vierde van vyf eendagwedstryde teen Sri Lanka in Kandy op die Pallekele-terrein gespeel. Die Proteas het die verkorte kragmeting met drie lopies verloor. Suid-Afrika loop nou met 3-1 voor in die reeks van vyf wedstryde.

Die wedstryd het laat begin as gevolg van reën en daar kon onderskeidelik net 39 en 21 boulbeurte ingepas word.

Die Proteas het drie veranderinge aan hul span aangebring. Heinrich Klaasen, Junior Dala en Keshav Maharaj is ingesluit in die plek van Faf du Plessis, Kagiso Rabada en Tabraiz Shamsi.

Suid-Afrika het die loot onder aanvoering van sy nuwe kaptein, Quinton de Kock, gewen en besluit om te boul. Spel is vroeg twee keer deur reën onderbreek. Met die tweede onderbreking was Sri Lanka op 46/0 (8,2/43 boulbeurte).

Sri Lanka het die lopies opgestapel en veral Kusal Perera het vinnig 51 lopies van net 32 balle gemoker. Die eerste paaltjie het in die 12de boulbeurt geval waarna daar gereeld paaltjies geval het. Die laaste tien boulbeurte het egter aan Sri Lanka behoort toe hy die Suid-Afrikaanse boulers behoorlik gekasty het. Thisara Perera (51 van 49 balle) en Dasun Shanaka (65 lopies van 34 balle) het ʼn vennootskap van 109 gemoker. Sri Lanka het uiteindelik 306/7 in sy 39 boulbeurte aangeteken. Met die bal het Lungi Ngidi 2/65 geneem en JP Duminy 2/35.

Tydens die Proteas se kolfbeurt het die reën weer ná twee beurte begin uitsak. Quinton de Kock en Hashim Amal het die telling in twee beurte na 21 lopies geneem.

Ná die lang onderbreking in die spel is die teiken aangepas na 191 lopies van 21 boulbeurte. Hasim Amala het 40 van net 23 balle bygedra, JP Duminy is met sy telling op 38 (23 balle) uitgehardloop. Suid-Afrika het toe 61 lopies benodig van 48 balle. Sri Lanka het gereeld paaltjies geneem en toe David Miller en Willem Mulder bymekaar kom het die Proteas nog 42 lopies benodig.

Mulder het egter sy paaltjie verloor en die Proteas het nog 36 lopies van 26 balle nodig gehad met net drie paaltjies staande. Miller en Keshav Maharaj het stadig gekolf en met twee boulbeurte oor het Suid-Afrika 16 lopies van 12 balle benodig. Maharaj het sy paaltjie vir 17 lopies van 14 balle verloor en Suid-Afrika het agt lopies van die laaste boulbeurt benodig. David Miller is egter skoongeboul vir 21 lopies en Sri Lanka maak daarmee seker hulle wen die wedstryd met drie lopies.

Suid-Afrika loop nou met 3-1 voor in die reeks.

Die vyfde en laaste wedstryd word Sondag 12 Augustus in Colombo gespeel.

Meer inligting is hier beskikbaar. 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.