Krieket: Hou Boucher in die saal

Mark Boucher vier 50 lopies op die vierde dag van die derde toets tussen Indië en Suid-Afrika by Nuweland-stadion in Kaapstad (5 Januarie 2011) (Foto: AFP Photo/Alexander Joe)

Wanneer die son begin water trek, sal daar aanhou vrae gevra word of die huidige nasionale krieketafrigter, Mark Boucher, die regte man is om die Proteas te lei.

Boucher was in sy speeldae een van die beste kolwer/paaltjiewagters, indien nie die heel beste nie.

Sy rekord getuig daarvan: 5 515 lopies in 147 toetse, 532 vangkanse en 23 stonkkanse. In eendagwedstryde is sy 4 686 lopies, 403 vangskote en 22 stonkkanse ewe indrukwekkend. Sy T20-rekord is maar skraps, want hy was reeds aan die einde van sy loopbaan toe T20-krieket werklik begin posgevat het.

As speler was hy ʼn vegter, iemand wat nooit moed opgegee het nie, vol passie en geesdrif.

Sy loopbaan is rampspoedig beëindig toe hy op sy laaste toer in 2012 deur Engeland ernstig beseer is toe ʼn dwarsbalkie hom in ʼn opwarmwedstryd teen die linkeroog getref het.

Hy het hom ʼn paar jaar hierna op afrigting begin toespits waar hy ongekende welslae as afrigter by die Titans behaal het voordat hy as nasionale afrigter aangestel is.

Sy rekord is nie altyd goeie leesstof nie, want Suid-Afrika is vierde in die ry agter Australië, Indië en Nieu-Seeland op die huidige toetsranglys.

In eendagkrieket is die Proteas sesde op die ranglys agter Nieu-Seeland, Engeland, Australië, Engeland, Indië en Pakistan.

In T20-krieket staan die Proteas vierde in die ry agter Indië, Engeland en Pakistan.

Maar tog is daar baie hoogtepunte, soos die afranseling van Australië in ʼn toetsreeks, die reeksoorwinning oor Nieu-Seeland in Nieu-Seeland en die oorwinning van 2-1 oor Indië nadat die Indiërs die eerste toets gewen het.

Ook so heel onlangs toe die Proteas Vrydag in Delhi ʼn oorwinning in die eerste T20-wedstryd teen Indië behaal het.

Maar daar was ook teleurstellings, soos Sri Lanka se eerste oorwinning in ʼn toetsreeks in Suid-Afrika, Indië se eerste toetsoorwinning in Suid-Afrika en ʼn trofeëkas wat steeds geen Wêreldbeker of T20-trofee bevat nie.

Maar kyk na die ontwikkeling van Rassie van der Dussen, Anrich Nortjé en Temba Bavuma, hoe David Miller nou van sy beste vertonings in T20-krieket lewer.

Wat van die “ontdekking” van Marco Jansen, Christian Stubbs en David Brewis? Dis nie alles te danke aan Boucher nie, maar hou maar gerus hul vordering dop.

Kom ons wees eerlik, om in Suid-Afrika af te rig, moet jy dikvellig wees, jy moet hare op jou tande hê, want jou prestasies word nie net gemeet aan wen of verloor nie.

Wanneer die span wen, is dit makliker, maar die dag as die span verloor, is daar ʼn moddergooiery.

Daar is gedurig iemand wat oor jou skouer loer, dink maar aan die onlangse onsmaaklikheid en vernedering toe Krieket Suid-Afrika (KSA) Boucher aan ʼn tugverhoor wou onderwerp, maar dit toe op die rak geplaas het.

Wie anders is daar in Suid-Afrikaanse krieket om die mantel by Boucher oor te neem? Gary Kirsten, Eric Simons, Russel Domingo en Mickey Arthur (almal was reeds voorheen agter die stuur), Adrian Birrell, Ashwell Prince, Herschelle Gibbs, Paul Adams, Imraan Khan, Hilton Moreeng of Robin Peterson?

Sal hulle enigsins beter as Boucher vaar?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.