Krieketkollig skyn helder op Kapp

Marizanne Kapp in aksie vir die Delhi Capitals in Indië. (Foto: Idrees Mohammed/AFP)

Is daar iets wat Marizanne Kapp tans nie op ʼn krieketveld kan doen nie?

Die veelsydige Protea-speler se ster het helder vir die Delhi Capitals in die Indiese Premierliga vir vrouespelers (WPL) geskitter.

Kapp het in haar vier boulbeurte slegs vyf lopies afgestaan en drie Uttar Pradesh Warriorz-kolwers terug na die kleedkamer gestuur.

En dit was nie sommer sulke hierjy-kolwers nie.

Benewens Dinesh Vrinda het sy ook binne ʼn oogwink van Alyssa Healy en Tahlia McGrath – gerekende Aussie-spelers – ontslae geraak.

Die Warriorz het met hul telling op 16/3 gesteier en hulle kon uiteindelik net 119 lopies in hul toegelate 20 boulbeurte bymekaarskraap.

Daarna het Shafali Verma en Meg Lanning korte mette met die telling gemaak en die Capitals het die wedstryd met nege paaltjies gewen.

Nodeloos om te sê, is Kapp as die speler van die wedstryd aangewys.

Dit is nie net op die plaaslike verhoog waar die 34-jarige speler uitblink nie.

Sy het ʼn sleutelrol in die Proteas se spoggerige eendagkrieketsege van 84 lopies teen Australië in Sydney gespeel.

Kapp het eerstens 75 lopies met die kolf geslaan, waarna sy drie Aussie-kolwers (insluitend Healy) uitgehaal het.

Volgens Cricinfo was dit die Aussies se derde grootste nederlaag in eendagkrieket en dit is die eerste keer sedert 2017 dat hulle die onderspit delf terwyl hulle ʼn telling op hul tuisveld jaag.

  • Opsomming van die telkaart:

UP Warriorz 119/9 in 20 boulbeurte: Shweta Sehrawat 45, Radha Yadav 4/20 en Marizanne Kapp 3/5.

Delhi Capitals 123/1 in 14,3 boulbeurte: Shafali Verma 64*, Meg Lanning 51 en Sophie Ecclestone 1/31.

Uitslag: Delhi Capitals wen met nege paaltjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.