KSA sê nee vir Aussie-eendagreeks

Die Proteas sal nie meer vroeg volgende jaar in ’n eendagreeks teen Australië speel nie. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Met ’n plek in volgende jaar se Wêreldbeker-kriekettoernooi nog nie ’n uitgemaakte saak nie, het die Proteas aan ’n eendagreeks teen Australië onttrek.

’n Nuwe plaaslike T20-toernooi (wat vroeg volgende jaar begin) en ’n propvol internasionale krieketkalender word as die hoofredes vir die besluit voorgehou.

Die Suid-Afrikaners sou vanaf 12 Januarie 2023 in drie eendagwedstryde teen Australië weg van die huis gespeel het, maar sal nou volgens berigte die reeks aan die Aussies hensop. En daarmee saam natuurlik al die ranglyspunte wat op die spel is.

Die Internasionale Krieketraad (IKR) se Superliga-ranglys speel ’n deurslaggewende rol in die Wêreldbeker-kwalifiseringsproses. Om ’n spul punte dan net so weg te gee, sal beslis nie ’n span se veldtog van hulp wees nie.

Die Proteas beklee tans die 11de plek op dié ranglys met 49 punte en slegs die agt voorste spanne sal hul outomaties hul tasse vir die internasionale skouspel kan pak; andersins is nóg kwalifiserende wedstryde die voorland.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het verlede maand ’n versoek aan die Australiese krieketbeheerliggaam gerig om die reeks te skuif, maar tot op hede kon geen alternatiewe datum vir die wedstryde gevind word nie.

“Gegewe dat die wedstryde nie vóór die kwalifisering-afsnydatum in Mei gespeel sal word nie, het KSA ingestem dat Australië die punte vir die reeks sal ontvang,” het Krieket Australië (CA) in ’n verklaring gesê.

Alles is egter nog onderworpe aan die IKR se goedkeuring.

Volgens Nick Hockley, CA se uitvoerende hoof, is dit hartseer dat die Proteas nie deel van die Aussies se witbalkrieketsomer sal wees nie.

“Terselfdertyd sien ons egter uit om gasheer vir drie toetse teen Suid-Afrika te speel. Hierdie wedstryde sluit dan die gewilde Nuwejaarstoets in.”

Boulers swoeg in Taunton

Intussen het die Proteas hul eerste opwarmingswedstryd teen ’n Engeland A-span met ses paaltjies in Taunton verloor.

Janneman Malan se 103 het die Suid-Afrikaners in staat gestel om 318/9 in hul toegelate 50 boulbeurte aan te teken, maar swak boulwerk het gesorg dat die Engelse die wenlopies al in die 38ste boulbeurt geslaan het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frank ·

11de????? Elfde????? ELFDE???? Die KSA is vinnig besig om sy doel te bereik om ons heel onder te kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.