Labuschagne wys sy staal in As-toets

Marnus Labuschagne word deur Jofra Archer raakgeboul. Foto: Krieket Australië se Twitter-rekening.

Hy was dalk maar net 10 jaar oud toe hy saam met sy ouers na Australië geëmigreer het, maar Marnus Labuschagne is tans saam met André Esterhuizen, Tyrone Green en Lehlohonolo Moses Maliehe een van Klerksdorp se bekendste name.

Die 25-jarige veelsydige speler het wêreldkrieket se eerste harsingskudding-plaasvervanger geword toe hy Steve Smith se skoene in die tweede toets in die Reeks om die As op Lord’s volgestaan het.

Smith is vroeër deur die blitsige Jofra Archer teen die nek geboul en ʼn mens het onwillekeurig aan Phil Hughes se dood ’n paar jaar gelede gedink, toe Sean Abbott hom in ’n Sheffield Shield-kragmeting ook teen die nek raakgeboul het.

Smith het harsingskudding opgedoen en die feit dat hy nie verder kon kolf nie, het die deur vir Labuschagne oopgemaak om toetskrieket se eerste plaasvervanger te word.

Nodeloos om te sê het Archer bloed geruik en toe Labuschagne kom kolf hom terstond met ’n kartets van 147 km/h teen die helm geboul.

Engeland se aggressiewe opslagbal-strategie het ooreenkomste met die Bodyline-reeks in 1932, toe Engeland se Harold Larwood en Bill Voce vir die legendariese sir Donald Bradman en ander Aussie-kolwers met opslagballe gepeper het.

Justin Langer, Australië se huidige afrigter, het gesê dat sy span nie in ’n emosionele oorlog weggevoer sal word deur te kyk wie die vinnigste kan boul nie, ten spyte van die feit dat Mitchel Starc en Pat Cummins dalk net so vinnig soos Archer is.

Marnus Labuschagne. Foto: Facebook.

Tog sien die 25-jarige Labuschagne uit na sy tweestryd met die Engelse boulers.

“Persoonlik is ek baie minder op my senuwees wanneer ek kolf, as wanneer ek die aksie van langs die veld dophou,” het hy gesê.

“Toe hy (Smith) raak geboul is, het ʼn mens hulpeloos gevoel. Maar wanneer jy self in die middel is, bruis die adrenalien deur jou are en al wat jy probeer doen is om die bal te volg.”

Labuschagne se 59 lopies het gesorg dat Australië ’n onbeslisde uitslag afdwing, nadat Archer (3/32) vroeër onder die ander kolwers gemaai het.

“Toe Archer my raakgeboul het, het dit ’n oomblik of twee geneem om ten volle van die hou te herstel. Jy staan net op en probeer om so kalm as moontlik voor te kom. Wanneer só ’n bal jou tref, besef jy dat daar nie tyd is om rond te ploeter nie – jy moet jouself staal om hárd te werk.

“Jy probeer om die bal so vinnig as moontlik vanuit die bouler se hand te volg en dan daarop te reageer. Ons kolwers moet ook ’n manier vind om lopies van sulke aflewerings aan te teken,” het ’n veglustige Labuschagne gesê.

  • Die derde toets in die reeks begin Donderdag op Headingley.
  • Labuschagne se toetsrekord: 269 lopies teen ’n gemiddeld van 29,88. Hy het ook al nege paaltjies geneem teen ’n gemiddeld van 27,11.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

J ·

Hy’s soveel n Saffa soos Federer. Saffas love dit om mense te gaan uitsoek en dan “trots” te wees.

Gatiep ·

J,
Ek kan nie die kloutjie by die oor bring nie. Ek vemoed jy is of snedig of jaloers. Indien dit so is , word asb groot en gun die persoon wat hy bereik het. Bewys my asb verkeerd.

Eddy ·

Ek is trots op wat Marnus bereik het.Net so ook met Tiaan Strauss , Kepler Wessels(die enigste 2 spelers wat beide RSA en Aussies op internasionale vlak verteenwoordig het.Ek weet nie of andere dit vermag het nie.Laat weet maar.

Dr. Rugby ·

Eddy, kyk onder Dual Internationals, Two Nations. Daar is 5 SA krieketspelers wat ook vir Engeland rugby gespeel het en 1 Sa krieketspeler wat ook vir Skotland rugby gespeel het. Tog vreemd dat die 2 bekendste name (Tiaan en Kepler) nie op daardie lys verskyn nie. Groete.

Therese van Schalkwyk ·

Puik berig!
Groot skoene om vol te staan, maar Marnus Labuschagne het reeds bewys dat hy murg in sy pype het.
Voorspoed vorentoe!

As krieketliefhebber voel ek die krieketgemeenskap is vreeslik hartseer en geskok wanneer ‘n kolwer sterf, maar dis duidelik net ‘n kwessie van tyd voor nóg ‘n tragedie afspeel.
‘n ‘Sport’, waar daar vir ‘n opponent se kop/lyf gemik word met ‘n klipsteenharde bal teen 150kmph, grens ietwat aan waansin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.