Laura se flitsende kolf doen die praatwerk

Laura Wolvaardt lewer gereeld skittervertonings in Nieu-Seeland. Foto: Marty Melville/AFP.

Terwyl spelers soos Marizanne Kapp en Shabnim Ismail se vertonings die koerantopskrifte haal, is Laura Wolvaardt ongetwyfeld die kolfrots waarop die Protea-beurte gebou word.

Toe sy die afgelope Donderdag vir drie lopies teen die Wes-Indiese Eilande uitgehaal is, was dit haar eerste kolfteleurstelling in ses Wêreldbeker-beurte.

Vóór dit het sy beurte van 41, 75, 77, 67 en 90 gespeel om ’n uitstekende kolfgemiddeld van 58,83 by die internasionale skouspel in Nieu-Seeland te handhaaf.

Boonop is haar 353 lopies tans die tweede meeste in die toernooi – net Australië se Meg Lanning (358) het meer lopies as die Suid-Afrikaner aangeteken.

Wolvaardt beskik oor die nodige talent en wilskrag om een van die wêreld se voorste vrouekolwers nóg te word: Sy het verlede jaar die jongste Suid-Afrikaner geword om 2 000 lopies in eendagkrieket te slaan.

Sy het in 72 wedstryde nou reeds 2 8 35 lopies teen ’n gemiddeld van 45,72 gemoker.

“Sy is vinnig op pad om een van die beste spelers te word wat ons ooit sal sien,” het Dané van Niekerk destyds gesê nadat sy die rekord verbeter het.

 Foto: Saeed Khan/AFP.

“Haar spel het aansienlik oor die afgelope paar maande verbeter en sy is nog so jonk! Ek hoop dat ek nog speel wanneer sy ’n Suid-Afrikaanse legende of selfs ’n wêreldster word. Sy het ongelooflike potensiaal – nie net as speler nie, maar ook as leier van ’n span.”

’n Frats-enkelbesering het die Protea-kaptein uit die Wêreldbeker-toernooi gehou, maar net soos duisende ander ondersteuners het sy steeds groot waardering vir Wolvaardt se flitsende kolf.

Haar houespel lyk immers net so goed op die televisieskerm as van die anderkant van die kolfblad.

Die Proteas is reeds van ’n plek in die halfeindstryd verseker, maar hulle speel môre in ’n laaste wedstryd teen Indië in Christchurch.

Die wedstryd begin om 03:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.