Malan glo Engelse kan nog wen

Dawid Malan koes vir ’n opslagbal. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

Ondanks twee reusenederlae – met nege paaltjies in Brisbane en met 275 lopies in Adelaide – glo Engeland se krieketspan dat hulle steeds die bordjies in die Reeks om die As kan verhang.

Volgens Dawid Malan is die Engelse steeds “positief”, maar hulle begin nou besef dat die bult dalk baie steiler is as wat hulle aanvanklik gedink het.

Die oudleerder van Paarl Boys’ High is tans die besoekers se beste kolwer – hy het in sy vier kolfbeurte 188 lopies teen ’n gemiddeld van 47 aangeteken.

“Ons sal doodeenvoudig net beter moet speel. Almal wil nog steeds die reeks wen en dit is ’n goeie teken,” het die 34-jarige kolwer in ’n radio-onderhoud gesê.

Malan glo dat “Operasie Regruk” hierdie Sondag op die Melbourne Cricket Ground sal begin. En oudergewoonte meen hy dat die Engelse baie “geleer” het uit die twee nederlae.

“Ja, ons is vir 192 in ons tweede beurt in Adelaide uitgehaal, maar die ouens weet nou dat hulle teen die Aussie-boulers kan vasskop. Maar uiteindelik moet ons lopies aanteken en nie net om oorlewing veg nie.

“Ons staan immers nie vir hulle terug in witbalkragmetings nie en hopelik kan ons met dieselfde ingesteldheid ’n toetswedstryd speel.”

Maar nadat James Anderson in die aanloop tot die toetsreeks gesê het dat die Engelse nie meer vir Australië in sy agterplaas skrik nie, moet hulle ná Brisbane en Adelaide ’n bietjie senuweeagtig oor hul skouers begin loer.

Nog net Malan en Joe Root kon vyftigtalle vir die besoekers aanteken, terwyl die tuisspan se kolwers gereeld die oorhand kry.

Intussen behoort Australië se Pat Cummins weer gereed vir die MCG-toets te wees nadat hy in aanraking was met iemand wat positief vir Covid-19 getoets het.

Daar is egter nog onsekerheid oor Josh Hazlewood se fiksheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.