‘Manjifieke Miller’ doen dit weer!

David Miller en Rassie van der Dussen vier die Proteas se spogoorwinning. Foto: Jewel Samad/AFP.

Die Proteas het gister die eerste T20-wedstryd teen Indië in Delhi op skouspelagtige wyse met sewe paaltjies gewen.

Nie net was dit die Suid-Afrikaners se hoogste suksesvolle lopiejaagtog nóg in die mik-en-moker-formaat van die spel nie, maar hulle het ook die tuisspan se trotse rekord van 12 seges op ’n streep beëindig.

En wie is die twee grootste helde?

Beslis David Miller en Rassie van der Dussen.

Wanneer jy ’n teiken van 212 vir ’n (onwaarskynlike?) oorwinning in T20-krieket jaag, is daar ’n paar belangrike dinge om in ag te neem: Eerstens het jy ’n kolwer nodig wat berserk die een grenshou na die ander kan inryg, terwyl jy ook iemand soek wat as’t ware vir die stilte in die storm sorg – ’n kolwer wat kophou en nie sy paaltjie verloor nie.

In Miller en Van der Dussen het Suid-Afrika dié twee kolwers gehad.

Die linkshandige Miller het vyfde gaan kolf en sommer vanuit die staanspoor die langsteel ingelê om die Indiese boulers onder druk te plaas.

Hy kolf deesdae met die selfvertroue van ’n hoërskoolster wat teen die swakste boulers in die voorseisoense liga speel en hy het ongetwyfeld op sy sukses in die afgelope Indiese Premierliga voortgebou.

Danksy Miller se welkome adrenalien-inspuiting het die Suid-Afrikaners se kolfbeurt weer op koers gekom nadat hulle ’n bietjie momentum verloor het.

Maar as sy kolfbeurt met ’n vuurwerkvertoning vergelyk kan word, dan het Van der Dussen soos ’n slim 800 m-atleet gekolf; een van dáái atlete wat stadig begin, maar genoeg petrol in die tenk oor het om met ’n verwoede aanslag teen die einde van die wedloop vorendag te kom.

Nadat Van der Dussen aanvanklik effens gesukkel het, het hy skielik in ’n sesslaan-masjien ontpop en hy het die wenlopies met ’n omgekeerde veeghou vanaf Yuzvendra Chahal se draaiboulwerk geslaan.

Die twee se onoorwonne vennootskap van 131 lopies om die vierde paaltjie is die hoogste vir Suid-Afrika en die vierde hoogste in internasionale T20-krieket.

“Dit verg harde werk, maar ek verstaan deesdae my spel baie beter as vantevore. Terselfdertyd het Rassie uitstekend teen die einde van die wedstryd gespeel. Ek wil ’n verskil maak wanneer ek speel,” het Miller gesê toe hy sy speler-van-die-wedstryd-toekenning in ontvangs geneem het.

Die tweede wedstryd in die reeks begin Sondag en die aksie sal oudergewoonte op SuperSport uitgesaai word.

  • Opsomming van telkaart:

Indië 211/4 in 20 boulbeurte: Ishan Kishan 76, Shreyas Iyer 36 en Wayne Parnell 1/32.

Suid-Afrika 212/3 in 19,1 boulbeurte: Rassie van der Dussen 75, David Miller 64 en Axar Patel 1/40.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kirst ·

Waar is almal wat so gal braak oor die Proteas en vertel hoe hulle nie meer SA krieket kyk nie nou?

Christian ·

Dit was ‘n briljante poging! Miller is in die form van sy lewe, kom ons hoop hulle torring nie nou aan die kolf volg order nie. Hou hom op 5, my enigste bekommernis is ons lang stert. Parnell & Maharaj is nie internationale vlak nommer 7’s en 8’s nie. Ons is een “uit en uit” kolwer kort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.