Marnus verbeter ’n Bradman-rekord met honderdtal

Marnus Labuschagne vier sy honderdtal op die Gabba. Foto: Patrick Hamilton/AFP.

Marnus Labuschagne het vanoggend die vyfde honderdtal van sy jong toetsloopbaan in die vierde en beslissende toets teen Indië in Brisbane geslaan.

Die 26-jarige Klerksdorper wat op tienjarige ouderdom saam met sy ouers na Australië verhuis het, is uiteindelik vir 108 lopies deur Rishabh Pant van Thangarusu Natarajan se boulwerk uitgevang.

In die proses het hy die legendariese sir Donald Bradman se rekord vir die meeste lopies in sy eerste drie beurte op die Gabba oortref.

Labuschagne het in sy drie Brisbane-beurte reeds 374 lopies gemoker, terwyl Bradman 326 lopies geslaan het.

Wanneer ’n mens in ag neem dat Bradman uiteindelik sy toetsloopbaan met ’n gemiddeld van 99,94 afgesluit het, is Labuschagne beslis in uitgelese geselskap.

Steve Smith, wat weer vir ’n mediastorm gesorg het toe hy in Indië se tweede beurt van die Sydney-toets soos ’n wafferse hoender in die kolfkampie rondgeskrop het, is vir 36 lopies uitgehaal.

Sir Donald Bradman. Foto: J.R. Loke/News Ltd/AFP.

Hy was Washington Sundar, wat sy buiging in die toets gemaak het, se eerste toetspaaltjie.

Maar eers terug na Labuschagne se spogbeurt.

Hy moes sy eerste aflewering reeds in die tweede boulbeurt trotseer het nadat Mohammed Siraj vroeg van David Warner (1) ontslae geraak het.

Labuschagne het goeie vennootskappe van 70 en 113 saam met Smith en Matthew Wade (45) gedeel. Hy is uiteindelik vir 108 lopies uitgehaal en sy beurt het nege grenshoue ingesluit.

Sy beurt was egter nie foutloos nie en Ajinkya Rahane en Cheteshwar Pujara het vangkanse verbrou om van hom ontslae te raak.

Australië het tans 240/5 met Cameron Green en Tim Paine voor die paaltjies.

Paine het in Sydney ’n nagmerrietoets agter die paaltjies beleef en ’n spul vangskote berou, terwyl hy ook op die vingers vir sy taalgebruik getik is.

  • Meeste lopies ná drie beurte op die Gabba:
  1. Marnus Labuschagne 374 lopies
  2. Sir Donald Bradman 326 lopies
  3. Doug Walters 310 lopies
  4. Brian Booth 300 lopies
  5. Norm O’Neill 286 lopies

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andrew ·

Ek is in Pretoria gebore maar het verhuis na die Kaap toe ek 10 was. Nou is ek 20 en het sedert 10 in die Kaap gebly. My pa is n bul maar ek skree vir die stormers.
Is ek n Pretonianer of Kaapenaar?

Piet ·

Ek het iewers gelees hy het nou die derde beste kolfgemiddelde van alle tye vir Aussie kolwers. Hy’s goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.