Mik-en-mokereindstryd op Nuweland

Die ikoniese Nuweland. (Foto: www.newlandscricketground.com.)

Stof solank jou harde hoed af: Die SA20-toernooi is om die draai.

Die eerste aflewering van Suid-Afrika se eie mik-en-mokertoernooi word op 10 Januarie 2024 afgestuur wanneer die Sunrisers Eastern Cape gasheer vir die Joburg Super Kings speel.

Organiseerders het intussen bevestig dat die eindstryd presies ʼn maand later (10 Februarie) op Nuweland beslis sal word.

“Somer en krieket loop hand aan hand en Kaapstad is nie net ʼn gewilde toeristebestemming nie, maar die stad het ook reeds sy suksesvolle gasheerstatus dubbel en dwars bewys,” het Graeme Smith, kommissaris van die toernooi, gesê.

Die Moederstad het onder meer die eindstryd van die T20-vrouewêreldbeker, die Wêreldbeker-netbaltoernooi en die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap aangebied.

“Kaapstad spog met ʼn unieke atmosfeer en ikoniese landmerke. Ons sien daarna uit om nog ʼn eindstryd van wêreldgehalte daar aan te bied.”

Die spanne vir die tweede weergawe van die toernooi is grotendeels bevestig en die eienaars het hul beursies groot oopgemaak om die dienste van Matthew Boast en Dayyaan Galiem te bekom.

Die 20-jarige Boast is vir R1,6 miljoen op die spelersveiling deur die Pretoria Capitals opgeraap. Die oudleerder van Hilton College het Suid-Afrika al by die o. 19-Wêreldbeker verteenwoordig, terwyl hy nege paaltjies in sy ses T20-wedstryde geneem het.

Galiem het vir dieselfde bedrag sy pad na die Joburg Super Kings gevind.

Die 26-jarige veelsydige speler se T20-getuigskrif spog met 437 lopies en 25 paaltjies en hy was ook destyds ʼn lid van die nasionale o. 19-span.

In ander verwikkelinge het Nicholas Pooran deel van die Durban’s Super Giants-opset geword. Die Wes-Indiese paaltjiewagter is ʼn bekende gesig op die internasionale T20-verhoog en sy flitsende kolf kan vir vinnige lopies sorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Net jammer dat die parkie krieket voorkeer kry bo Internationale krieket, dan wonder julle hoekom ons chokers is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.