Moore toer saam na Nieu-Seeland

Edward Moore. (Foto: X/Krieket Suid-Afrika)

Edward Moore sal saam met Suid-Afrika se rooibalkrieketgroep na Nieu-Seeland toer. ʼn Ietwat afgewaterde Protea-groep – wat sonder ʼn rits sterre soos Aiden Markram, Kagiso Rabada en Keshav Maharaj moet klaarkom – sal in ʼn paar toetse teen die Swartpette speel.

Slegs twee van die spelers wat in die onlangse Centurion-toets teen Indië geseëvier het, sal na Nieu-Seeland reis, die gevolg van ʼn besluit deur Krieket Suid-Afrika om die winsgewende SA20-toernooi te prioritiseer.

Die 30-jarige Moore is juis opgeroep nadat Tony de Zorzi deur die Durban’s Super Giants opgeraap is.

Hy het egter reeds sy staal in eersterangse wedstryde getoon: In 117 kragmetings het dié Westelike Provinsie-speler 7 743 lopies teen ʼn gemiddeld van 40,96 geslaan.

In sy onlangse wedstryde vir die WP het hy as openingskolwer met beurte van 112 en 116 nie uit nie beïndruk en het hy tans die sewende meeste lopies in die plaaslike reeks aangeteken.

Hy sal na alle waarskynlikheid ook die nuwe bal saam met Neil Brand in Nieu-Seeland moet tem.

Protea-toetsgroep: Neil Brand (kaptein), David Bedingham, Ruan de Swardt, Clyde Fortuin, Zubayr Hamza, Edward Moore, Tshepo Moreki, Mihlali Mpongwana, Duanne Olivier, Dane Paterson, Keegan Petersen, Dane Piedt, Raynard van Tonder, Shaun von Berg en Khaya Zondo.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

George ·

Ekt nie n probleem met die span nie, maar julle moet darm jong spelers kies, die avg ouderdom van die span is 32

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.