Nortjé, Neesham haal wind uit Super Kings-seile

Anrich Nortjé en James Neesham het teen die Joburg Super Kings geskitter. Foto: Twitter.

As jy ooit die woord “ineenstorting” in ʼn woordeboek opsoek, moenie verbaas wees as jy ʼn foto van die Joburg Super Kings langs die beskrywing sien nie.

Want met hul telling op 70/2 ná ses boulbeurte – en met ʼn meesterlike Faf du Plessis voor die paaltjies – het dit gelyk of die Pretoria Capitals ʼn groot telling vir ʼn oorwinning op SuperSportpark sou moes jaag.

Maar James Neesham en Anrich Nortjé het ander planne gehad en binne ʼn oogwink het die Johannesburgers vyf paaltjies vir slegs agt lopies verloor.

Du Plessis het 11 grenshoue in sy blitsbeurt van 51 lopies geslaan, maar sy paaltjie het die ineenstorting ingelui toe Phil Salt hom agter die paaltjies van Neesham se boulwerk uitgevang het.

Daarna het Lewis Gregory (0), Kyle Verreynne (3), Romario Shepherd (2) en Gerald Coetzee (0) op ʼn streep die pad terug na die kleedkamer aangepak.

Nortjé het sy spoed en boullengtes goed gewissel en Super Kings-kolwers het gesukkel om teen hom staande te bly.

Hulle is uiteindelik vir 122 lopies uitgeboul en die Capitals het die wenlopies in 13 boulbeurte geslaan.

Opsomming van telkaart:

Joburg Super Kings 122/10 in 15,4 boulbeurte: Faf du Plessis 51, James Neesham 3/7 en Anrich Nortjé 3/12.

Pretoria Capitals 123/4 in 13 boulbeurte: Phil Salt 52*, Will Jacks 34 en Lewis Gregory 1/12.

  • In die ander wedstryd van die dag het ʼn spesiale Marco Jansen-kolfbeurt toegesien dat die Sunrisers Eastern Cape hul tweestryd teen MI Cape Town met twee paaltjies kon wen.

Die Protea-boontjierank het 66 lopies vanaf slegs 27 aflewerings gemoker en hy het veral van Rashid Khan se boulwerk gehou.

Hy het 28 lopies van een van die Afghanistan-ster se boulbeurte geslaan en sy vennootskap van 53 lopies om die agste paaltjie saam met Brydon Carse het die wa deur die drif vir die Oos-Kapenaars getrek.

Carse het vyf lopies tot die vennootskap bygedra.

MI Cape Town 171/6 in 20 boulbeurte: Grant Roelofsen 56, Ryan Rickelton 46 en Roelof van der Merwe 2/21.

Sunrisers Eastern Cape 172/8 in 19,3 boulbeurte: Marco Jansen 66*, Tristen Stubbs 28 en Kagiso Rabada 3/34.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CRDP ·

Dis nou goed bewys, as jy ‘n snor groei bowl jy nog vinniger, vra vir Anrich Nortjé en Mitchell Johnson. Ek dink Dale Steyn se vinnigste bowl jare was ook toe hy ‘n snor gehad het.
Oja en……..wie nie snor nie, score nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.