‘Ons kan nog die reeks wen,’ meen Stokes

Engeland se kaptein, Ben Stokes. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Ondanks ʼn nederlaag van 434 lopies in die derde toets teen Indië in Rajkot meen Ben Stokes dat Engeland nogtans die reeks met 3-2 kan beklink.

Die Engelsmanne het die eerste toets in Hyderabad met 28 lopies gewen, maar hulle het sleg tweede in die daaropvolgende wedstryde gekom.

In Rajkot het die kolwe van Rohit Sharma en Yashasvi Jaiswal hul boulaanval stil gespeel, terwyl Ravindra Jadeja se goëlaflewerings een te veel vir die kolwers was.

Engeland se aggressiewe benadering is ook in die spervuur, veral nadat Joe Root sy paaltjie met ʼn verdagte omgekeerde optelhou van Jasprit Bumrah se boulwerk verloor het.

Die Engelse pers het dié hou as die swakste in toetskrieket beskryf.

“Almal het maar hul sienswyse oor dinge. Tog is die enigste opinie wat werklik saak maak dié van die spelers in die kleedkamer. Ja, dinge werk nie altyd uit soos wat jy dit wil hê nie, maar daar is nog twee wedstryde oor in die reeks. Ons kan nog met die silwerware huis toe keer as die telling 3-2 in ons guns is,” het Stokes gesê.

Volgens die Engeland-kaptein, wat in sy 100ste toets gespeel het, sal sy span nie lank oor die groot nederlaag treur nie. Dit is as’t ware voorwaarts mars vir die bleekbene.

“Ons gaan al die emosies en teleurstelling van hierdie wedstryd agter ons plaas en aanbeweeg na die volgende toets. As ʼn span gaan ons alles in die stryd werp om die volgende twee toetse te wen.”

  • Opsomming van die telkaart:

Indië 445/10 in 130,5 boulbeurte: Rohit Sharma 131, Ravindra Jadeja 112 en Mark Wood 4/114.

Engeland 319/10 in 71,1 boulbeurte: Ben Duckett 153, Ben Stokes 41 en Mohammed Siraj 4/84.

Indië 430/4 in 98 boulbeurte: Yashasvi Jaiswal 214*, Shubman Gill 91 en Tom Hartley 1/78.

Engeland 122/10 in 39,4 boulbeurte: Mark Wood 33 en Ravindra Jadeja 5/41.

Uitslag: Indië wen met 434 lopies.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.