Proteas beklink reeks in Ierland

Die seëvierende Protea-vrouekrieketspan. Foto: Twitter.

Die Protea-vrouekrieketspan het gister die derde en beslissende T20-wedstryd teen Ierland met agt paaltjies gewen om die reeks met 2-1 te beklink.

Die Suid-Afrikaners het die Iere tot slegs 104 lopies beperk, waarna hulle die wenlopies reeds in die 14de boulbeurt geslaan het.

Toe Anneke Bosch se grenshou vanaf Georgina Dempsey se boulwerk die wedstryd vir die besoekers gewen het, was daar nog 37 aflewerings in die kragmeting oor.

Bosch (105 lopies) en Lara Goodall (100 lopies) tel onder die voorste lopiemakers in die reeks, terwyl Tumi Sekhukune (agt paaltjies) en Nadine de Klerk (vyf paaltjies) gereeld die Iere op die agtervoet met hul paaltjieneemvermoë geplaas het.

Volgens die Internasionale Krieketraad (IKR) is die Proteas tans die vyfde beste T20-span ter wêreld, terwyl hulle die naasbeste span op die internasionale eendagkrieketverhoog is.

“Vrouekrieket raak al hoe meer gewild en in baie lande kan dit sy amateurstatus vir professionele status verruil. Die spel is ongetwyfeld op die voorgrond en baie mense wil daarin belê. Hopelik is dit ’n tendens wat sal voortduur; vrouekrieket verdien dit,” het Suid-Afrika se Suné Luus op die vooraand van die Ierland-reeks gesê.

Die Proteas staan beslis ’n kans om ’n medalje by die komende Statebondspele in Birmingham te wen.

Hulle speel egter in ’n taai groep teen Nieu-Seeland, Engeland en Sri Lanka.

  • Opsomming van telkaart:

Ierland 104/10 in 18,3 boulbeurte: Shauna Kavanagh 33, Tumi Sekhukune 3/20 en Nonkululeko Mlaba 2/15.

Suid-Afrika 108/2 in 13,2 boulbeurte: Lara Goodall 48 en Anneke Bosch 44.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.