Proteas bespreek plek in halfeindstryd!

Die Protea-vrouekrieketspan het vir die halfeindstryd van die T20-Wêreldbeker gekwalifiseer. Foto: Twitter.

Die Protea-vrouekrieketspan het Bangladesj in Kaapstad met tien paaltjies geklop om vir die halfeindstryd van die T20-Wêreldbeker te kwalifiseer.

Suid-Afrika verloor nie sommer ʼn wedstryd teen Bangladesj nie, maar in die drukkoker van ʼn internasionale uitkloptoernooi op jou tuisveld is enigiets moontlik – veral as jy jou eerste wedstryd teen Sri Lanka verloor het.

Maar Marizanne Kapp en Ayabonga Khaka het toegesien dat die besoekers tot 113/6 in hul toegelate 20 boulbeurte beperk is, waarna Laura Wolvaardt en Tazmin Brits se openingsvennootskap die wedstryd vir die Proteas beklink het.

Die 23-jarige Wolvaardt het juis vóór die wedstryd gesê dat sy die een of ander tyd met die kolf sal vlamvat – sy moet net geduldig bly.

“Dit is ʼn frustrerende toernooi vir my, maar dit voel goed om lopies agter my naam te kry. Ek en Taz was onder druk om te presteer en ons het waarskynlik dinge ʼn bietjie moeiliker laat lyk, tog is dit altyd spesiaal om op Nuweland te speel. Terselfdertyd verdien ons bouleenheid baie lof,” het Wolvaardt gesê toe sy die speler van die wedstryd-toekenning in ontvangs geneem het.

Dinge raak egter nie veel makliker vir die Proteas nie – hulle sal teen Engeland in die halfeindstryd te staan kom.

Engeland is saam met Australië die enigste twee onoorwonne spanne in die toernooi en hulle het met Indië, die Wes-Indiese Eilande, Pakistan en Ierland in hul opmars na die uitklopwedstryde afgereken.

  • Opsomming van telkaart:

Bangladesj 113/6 in 20 boulbeurte: Nigar Sultana 30, Marizanne Kapp 2/17 en Ayabonga Khaka 2/21.

Suid-Afrika 117/0 in 17,5 boulbeurte: Laura Wolvaardt 66* en Tazmin Brits 50*.

  • Punteleer (Groep 1):
  1. Australië: 8 punte
  2. Suid-Afrika: 4 punte
  3. Nieu-Seeland: 4 punte
  4. Sri Lanka: 4 punte
  5. Bangladesj: geen punte
  • Halfeindstryd-bepalings:

23 Februarie: Australië teen Indië in Kaapstad

24 Februarie: Suid-Afrika teen Engeland in Kaapstad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

piet ·

Kan dalk ‘n verrassing teen Engeland wees want hulle is definitief nie so goed soos die Aussies nie. Gaan moeilik wees maar in T20 kan enige iets gebeur.

George ·

Die verskil is, spanne soos Engeland en Aussies gaan n span straf vir foute op die veld waar Bangladesh nie het nie, drop catches, missed stumpings, run outs, stadig tot by die bal ens. Top spanne laat jou boet. As ons teen Aus of Eng speel soos gister, gaan ons ver verloor.

George ·

Well Done girls, nou moet jul, julle sokkies optrek en werk aan daai swak veldwerk en spel, Engeland gaan jul nie genadig wees soos Bangladesh nie, en terug kom en goed wen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.