Proteas jag nóg ’n reeksoorwinning teen Indië

Heinrich Klaasen vier sy vyftigtal in die vorige wedstryd. Foto: Twitter.

Glo dit of nie, maar nóg ’n reeksoorwinning teen Indië is binne die Proteas se bereik.

Indien die Suid-Afrikaners vandag die derde T20-kragmeting tussen die twee spanne wen, sal hulle die reeks met nog twee oorblywende wedstryde beklink.

Temba Bavuma se elftal het die tuisspan in die eerste twee wedstryde onderskeidelik met sewe paaltjies en vier paaltjies geklop.

Vóór die onlangse aksie het Dean Elgar-hulle die toetsreeks in Suid-Afrika gewen, waarna daar ook in die daaropvolgende eendagreeks geseëvier is.

In die afgelope paar kragmetings het die Proteas gewys dat hulle ook weg van die huis kan wen en hulle het twee moeilike lopiejaagtogte met sukses aangepak.

Eers het Rassie van der Dussen en David Miller ’n meesterles in Delhi gelewer, waarna Heinrich Klaasen met sy warrelwindbeurt die wind uit die tuisspan se seile gehaal het.

Klaasen het 81 lopies van slegs 46 aflewerings in Cuttack geslaan en dit het met tye gelyk of hy op ’n ander kolfblad as die res van die kolwers speel.

En anders as in die verlede waar die Proteas maar lelik teen draaiboulwerk kleigetrap het, het die 30-jarige speler sy stempel dubbel en dwars teen Yuzvendra Chahal en kie afgedruk om 48 lopies van die draaiers se boulwerk te moker.

Sy spogbeurt het nie net die Proteas se kans om die reeks te wen ’n welkome hupstoot gegee nie, maar so ook sy eie loopbaan.

“Dit is ’n seën van Bo dat hierdie beurt op dié tydstip van my loopbaan gekom het en hopelik sal dit my internasionale loopbaan verleng,” het Klaasen ná die afloop van die wedstryd gesê.

Bavuma het ook sy lof besing.

“Heinrich is ’n belangrike skakel in ons middelorde en ons weet wat hy alles kan doen.  Ons het baie vertroue in sy vermoë en hy het weer eens aan almal gewys waarom hy deel is van die span,” het die Suid-Afrikaanse witbalkrieketkaptein gesê.

Intussen is Aiden Markram steeds nie beskikbaar nie nadat hy vroeër positief vir Covid-19 getoets het, terwyl Quinton de Kock dalk nog nie voldoende van sy besering herstel het nie.

Maar die Proteas het 13 van hul afgelope 14 T20-wedstryde gewen, terwyl Miller-hulle ook gewys het dat hulle deesdae die drukkoker van ’n lopiejaagtogsessie baie beter kan hanteer.

Vanmiddag se aksie begin om 15:30 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.