Proteas op die wenpad in Engeland

Heinrich Klaasen het 123 lopies vanaf slegs 85 aflewerings gemoker. Foto: Twitter.

Die Proteas het gister se tweede opwarmingswedstryd teen Engeland se naasbeste krieketspan op ’n drafstap met 107 lopies gewen.

Die oorwinning was grotendeels te danke aan Heinrich Klaasen wat 123 lopies vanaf slegs 85 aflewerings gemoker het. Sy beurt het 14 grenshoue (waaronder vyf sesse) ingesluit en hy het saam met spelers soos Andile Phehlukwayo (67 van 53 balle) en Rassie van der Dussen (61 van 52 balle) toegesien dat die Suid-Afrikaners 360/7 in hul toegelate 50 boulbeurte kon aanteken.

Daarna het Keshav Maharaj – wat die span in Temba Bavuma se afwesigheid aanvoer – en Lungi Ngidi se goeie boulwerk toegesien dat die Engelse vir 253 lopies in die 39ste boulbeurt uitgehaal is.

Anrich Nortjé (2/63) en Phehlukwayo (1/49) het egter meer as sewe lopies per boulbeurt afgestaan en harde werk wag nog indien hulle spelers soos Jos Buttler en Ben Stokes in toom sal wil hou.

Klaasen verdien egter ’n pluimpie vir die wyse waarop hy deesdae boulers onder druk plaas. Die 30-jarige kolwer was vroeër in die T20-reeks teen Indië ook een van Suid-Afrika se meer bestendige kolwers.

Selfs Paul Collingwood, die tuisspan se afrigter, was beïndruk met die Protea se vurige kolfwerk.

“Ons kon Suid-Afrika soms onder druk plaas, maar Heinrich het met ’n vuurwerkvertoning teen die einde van hul beurt vorendag gekom en hulle kon met ’n gedugte telling spog,” het Collingwood gesê.

Op sy beurt is Klaasen tevrede met sy huidige vertonings en hy meen dat hy nou die vrugte van sy harde werk agter die skerms pluk.

“Hopelik sal ek kan voortgaan om op hierdie spelpeil-golf te ry, want ek is baie tevrede met die wyse waarop ek tans die bal slaan,” het hy gesê.

Die eerste eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Engeland word Dinsdag in Chester-le-Street beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.