Rassie kry sy Protea-kontrak

Rassie van der Dussen. Foto: Cricinfo.

Die 29-jarige Lions-kolwer, Rassie van der Dussen, het ’n nasionale krieketkontrak losgeslaan.

Hy het vir die afgelope paar seisoene skitterkrieket vir die Lions op die plaaslike front gespeel, terwyl hy Suid-Afrika se bestendigste kolwer op die internasionale witbalverhoog was nadat hy basies as AB de Villiers se plaasvervanger aangewys is.

Van der Dussen het reeds 664 lopies vir die Proteas in 18 eendagwedstryde geslaan sedert hy sy debuut in Januarie teen Pakistan gemaak het.

Hy slaan sy lopies teen ’n gemiddeld van 77.73 per wedstryd en was een van die Proteas se min helde tydens die afgelope Wêreldbeker-kriekettoernooi in Engeland.

Hy het sy waarde onderstreep met tellings van 95 teen Australië in Manchester en 67* teen Nieu-Seeland in Birmingham. Hy is tans een van die top-lopiemakers in die Kanadese T20-reeks waar hy vir die Vancouver Knights speel.

Hy is ’n direkte plaasvervanger vir Duanne Olivier – wat deesdae as Kolpak-speler sy krieket in Engeland speel – op die nasionale kontraklys.

“Rassie verdien sonder enige twyfel sy bevordering en dit is veral te danke aan sy skitterende debuutseisoen wat die knoop vir hom deurgehak het.

“Hy is ’n inspirasie vir alle plaaslike krieketspelers en sy vordering wys net wat kan vermag word as jou spelpeil bestendig is,” het Krieket Suid-Afrika se hoofuitvoerende beampte, Thabang Moroe, gesê.

Met die internasionale toetskrieketkampioenskap wat ook vanjaar van stapel gestuur is, is Van der Dussen se toetsdebuut waarskynlik ook nie té ver in die toekoms nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Robert ·

“n Direkte plaasvervanger vir Duanne Olivier? dan moes hy ‘n bouler gewees het. Ek hoop net RvdD leer om ‘n wag voor sy mond te hou en nie ondeurdagte uitlatings te maak soos by die CWC nie, maar ons cappie het mos gesê by die CWC as hulle nie wen dan is dit maar so.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.