Reeks om die As: Marnus jaag Engelse die harnas in

Argieffoto van Marnus Labuschagne. (Foto: Patrick Hamilton/AFP) 

Marnus Labuschagne se grootste bates met die kolf is sy temperament, werksetiek en deursettingsvermoë, maar hy kan ook behoorlik onder sy teenstanders se velle inkruip met sy aanhoudende gebabbel en allerlei kolfmaniere.

Dié eksentrieke oud-Suid-Afrikaner was Saterdag op Old Trafford in Manchester ʼn vlieg in die salf van die Engelse krieketspan op die reënonderbreekte vierde dag van die vierde toetswedstryd in die reeks om die As teen Australië.

Die Engelse het steeds die hef in die hand, want die Aussies (214/5) kort nog 61 lopies in hul tweede beurt om ʼn beurtnederlaag af te weer nadat Engeland 592 in sy eerste beurt aangeteken het en die Aussies vir 317 in hul eerste beurt uitgehaal het.

Labuschagne het Saterdag ná etenstyd, toe spel lank deur reën onderbreek is, op 44* kom voortkolf met Australië op 113/4 behoorlik in die knyp.

Labuschagne, wat voor die reeks die eerste posisie op die Internasionale Krieketraad se kolfranglys beklee het, het nie in die eerste drie toetse oortuig nie.

Maar ná sy 51 lopies in die eerste beurt het hy dit in die tweede met beurt met 111 lopies opgevolg. Dit was sy 11de toetshonderdtal en hoewel dit na alle waarskynlikheid nie genoeg gaan wees (as dit nie reën nie) om Engeland van ʼn oorwinning af weg te hou nie, het Labuschagne die Engelse erg gefrustreer.

Voordat spel hervat is, het Labuschagne saam met vyf afrigters op die veld en in die nette geoefen om sy oog in te kry.

En nadat spel hervat is, het hy tot groot onsteltenis van die Engelse veldwerkers die toestemming van die skeidsregter gevra om die Dukes-bal te ondersoek om te kyk of dit sal swaai.

Dit het die Engelse kaptein, Ben Stokes, warm onder die kraag gelaat, want dis ongehoord in krieketkringe.

Woorde is oor en weer geslinger en is later op die mediakonferensie voortgesit.

As die weer hou, behoort Engeland die toets te wen, want Australië (214/5) kort nog 61 lopies om ʼn beurtnederlaag af te weer.

Mitchell Marsh (31*) en Cameron Green (3*) kolf Sondagmiddag voort. As die weer hou en die Engelse vroeg toeslaan, bly net die paaltjiewagter Alex Carey as erkende kolwer oor om wal te gooi.

As Engeland wen, is die reeks met 2-2 gelykop met die laaste toets op die Oval oor.

As die toets weens reën onbeslis eindig, loop die Aussies met 2-1 voor en sal hulle die As behou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.