Reeks op spel in warm Paarl

Die Proteas kan uitstekende krieket speel as hulle wil. (Foto: Twitter/KSA)

Die eendagkrieketreeks tussen Suid-Afrika en Indië is op die spel in die Paarl en dit beloof om ʼn warm dag te wees.

Volgens die weerprofete kan die kwik tot 36 °C styg en die Proteas sal dinge ook warm vir die Indiërs op die speelveld wil maak.

Die gelol is egter dat ʼn mens deesdae nie eintlik weet wat om van die Proteas te verwag nie: Gaan hulle vir 116 lopies uitgehaal word, of gaan hulle in moeilike toestande sterk staan om die wenlopies te slaan?

Ná die span se goeie vertoning op St. Georgepark hou jy duim vas vir die laasgenoemde opsie en die kolfblad behoort ook saam te speel.

Ja, die Bolandpark-blad is nie die vinnigste nie, maar Suid-Afrika het onlangs tellings van 296/4 en 288/3 in hul beurte opgestapel om wedstryde te wen.

Tony de Zorzi het in Gqeberha gewys dat hy oor die nodige aanpasbaarheid beskik om groot beurte vir die Proteas te speel.

Hy sal nou graag op sy honderdtal wil voortbou, terwyl Reeza Hendricks ook ʼn goeie lopie as openingskolwer verdien.

Dan het kaptein Aiden Markram net drie lopies nodig om  ʼn duisend eendaglopies in die kalenderjaar te moker – ʼn eerste vir hom.

Op die boulfront sorg Nandre Burger vir die nodige opwinding: Hy is linkshandig, kan kartetse van 150 km/h afstuur en hy swaai ook die bal.

Indien die baanblad meer hulp aan draaiboulwerk verleen, kan die Proteas egter weer twee draaiers in Keshav Maharaj en Tabraiz Shamsi kies.

Die wedstryd begin om 13:00 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.