Rilee aan die brand in Pakistan

Rilee Rossouw op die voorvoet in Pakistan. Foto: Twitter.

Rilee Rossouw het die rekords laat spat ná sy warrelwindkolfbeurt vir die Multan Sultans teen Peshawar Zalmi in die Pakistan Superliga (PSL).

Die Protea-kolwer het sy eie rekord vir die vinnigste honderdtal van die toernooi verbeter toe hy die mylpaal in 41 aflewerings bereik het.

Sy vorige rekord het hy teen die Quetta Gladiators in 2020 opgestel. Hy het toe 43 aflewerings benodig om sy honderdtal aan te teken.

Hy is uiteindelik vir 121 lopies uitgehaal, maar hy het gesorg dat sy span die wenteiken van 243 lopies op ʼn drafstap kon verbysteek.

Volgens Rossouw – wat natuurlik as die speler van die wedstryd aangewys is – het hy Jason Roy se raad gevolg nadat die Engelse kolwer ook vroeër amok in die tweede koflbeurt van ʼn PSL-wedstryd gemaak het.

“Volgens Jason moet ʼn mens reeds vanaf die eerste aflewering wat jy trotseer op alle suiers vuur. Gelukkig het dinge nou vir my uitgewerk,” het Rossouw gesê.

Hy beskou sy vuurwerkvertoning as die beste kolfbeurt van sy T20-loopbaan omdat daar soveel meer druk op ʼn kolwer is wanneer hy vinnig moet lopies aanteken om die wedstryd vir sy span te probeer wen.

Rossouw het in 2022 gewys dat hy ʼn sesslaan-masjien is toe hy in die kleure van Suid-Afrika, die Sultans, die Oval Invincibles, Sydney Thunder en Somerset altesaam 86 keer die bal oor die grenstou gejaag het.

Dit was die naasmeeste T20-sesse in die kalenderjaar; net Australië se Tim David (93 sesse) was in ʼn meer verwoestende bui.

Benewens sy sesslaan-avonture het Rossouw meer as 1 400 lopies in sy 51 wedstryde teen ʼn treftempo van 169,20 gemoker.

  • Opsomming van telkaart:

Peshawar Zalmi 242/6 in 20 boulbeurte: Babar Azam 73, Saim Ayub 58 en Abbas Afridi 4/39.

Multan Sultans 244/6 in 19,1 boulbeurte: Rilee Rossouw 121, Kieron Pollard 52 en Azmatullah Omarzai 2/62.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.