Sesse en vangskote – Stubbs laat krieket lekker lyk

Tristan Stubbs op die oorlogpad teen die Engelse boulers. Foto: Steve Bardens/AFP.

So ’n paar jaar gelede – toe DVD’s nog ’n ding was – kon ’n mens een van Michael Atherton se pogings in die winkels aanskaf.

Die voormalige Engeland-krieketkaptein het destyds gepoog om van krieket se grootste vermaaksterre in een elftal saam te vat.

Van Sachin Tendulkar, Brian Lara en Adam Gilchrist tot Shane Warne, Shoaib Akhtar en Allan Donald was in die span. Atherton het dinge perfek opgesom: Hierdie spelers beskik oor die unieke vermoë om kroeë te laat leegloop en pawiljoene voller te maak wanneer hulle uitstap om te kolf of gereed maak om te boul.

Nou, binne ’n moderne Suid-Afrikaanse krieketkonteks, sal AB de Villiers ongetwyfeld in Atherton se redigeer-visier wees. En dalk – as dinge volgens plan verloop – kan die jong Tristan Stubbs ook deel van die aksie wees as die Engelsman in die toekoms ’n soortgelyke video (hierdie keer seker net op YouTube) wil aanmekaar slaan.

Want selfs al het die 21-speler nog net ’n handjievol internasionale wedstryde gespeel, is ’n mens opgewonde wanneer hy voor die paaltjies stelling inneem. Amper soos wanneer Kurt-Lee Arendse die bal op Loftus Versfeld in die hande kry.

Die openingswedstryd in die T20-reeks teen Engeland in Bristol was Stubbs se eerste kolfbeurt vir die Proteas (hy het in sy twee wedstryde teen Indië nie kolfkans gekry nie) en hy het beslis nie teleurgestel nie.

Hy het 72 lopies van slegs 28 aflewerings gemoker en die agt groot sesse was ongetwyfeld die kersie op die koek.

Ja, die Suid-Afrikaners het steeds die wedstryd met 41 lopies verloor, maar Stubbs het plaaslike ondersteuners vir ’n rukkie ’n rede gegee om te glo.

Druk die versnelknoppie na die derde en beslissende wedstryd in Southampton en die jong Suid-Afrikaner het met ’n skitterende eenhandvangskoot vorendag gekom om van Moeen Ali ontslae te raak.

Vergeet maar vir eers van Superman se blou en rooi gewaad; hy was Sondag eerder getooi in die groen van ’n Protea-krieketspeler.

“Dit is opwindend om ’n speler wat oor die X-faktor beskik in ons span te hê. Tristan geniet tans sy krieket en daar is altyd ’n glimlag op sy gesig,” het Aiden Markram van sy jong spanmaat gesê.

Saam met spelers soos Rilee Rossouw en David Miller sorg Stubbs dat die Protea-kolflys beslis oor meer slaankrag beskik. Waar dit vantevore ’n wroeging was om 160 lopies in ’n T20-wedstryd bymekaar te maak, het die Suid-Afrikaners in elke kolfbeurt teen die Engelse meer as 190 lopies aangeteken.

Maar elke droomlopie kom een of ander tyd tot ’n einde – soos wat Markram kan getuig.

“My raad aan Tristan is om hierdie lopie so lank as moontlik te probeer uitrek. Dan sal daar beslis nog ongelooflike dinge op hom wag.”

’n Kort boodskap aan Suid-Afrika se krieketbase: Bestuur Stubbs op só ’n manier dat Atherton hom eendag in ’n video insluit. Want die spelers wat daarin bevat word, sorg nie net vir hope vermaak nie, maar hul loopbaanstatistiek sorg ook vir baie indrukwekkende leesstof.

  • Die Proteas speel vandag in die eerste T20-wedstryd teen Ierland in Bristol. Die aksie begin om 19:30 en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.