Simon draai kolwers wéér deurmekaar

Simon Harmer. Foto: Twitter.

Simon Harmer was dalk nie in die afgelope toetsreeks teen Engeland op sy beste nie, maar die selfverklaarde “beste wegbreek-bouler ter wêreld” is beslis iemand wat daaraan gewoond is om paaltjies in te oes.

Die 33-jarige speler, wat vir die Titans in die plaaslike vierdaagse reeks speel, het pas 14 paaltjies teen die Lions in Johannesburg geneem.

Voordat elke ongelowige Thomas gereed maak om kommentaar te lewer – vir ʼn draaier is dit ʼn merkwaardige prestasie om soveel kolwers op die Wanderers terug na die kleedkamer te stuur. Die baanblad het immers ʼn reputasie as ʼn snelbouler se paradys.

Harmer, wat met boulsyfers van 7/83 en 7/68 in die Johannesburgers se twee kolfbeurte gespog het, het onder meer die paaltjies van Rassie van der Dussen (twee keer), Reeza Hendricks (twee keer) en Wiaan Mulder (twee keer) geneem.

Mandla Mashimbyi (Titans-afrigter) het al vantevore gesê dat die Protea-draaier waarde tot die span voeg.

“Simon het baie vaardighede en hy beskik oor ongelooflike krieketkennis. Ek dink hy is tans die beste draaier in wêreldkrieket en dit is lekker om hom hier te hê,” het Mashimbyi gesê.

Harmer het al ʼn hele paar keer 14 of meer paaltjies in ʼn wedstryd geneem en hy is in 2020 as een van die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack se beste krieketspelers van die jaar aangewys.

  • Opsomming van telkaart:

Lions 354/10 in 111,5 boulbeurte: Ryan Rickelton 108*, Joshua Richards 107 en Simon Harmer 7/83

Titans 449/10 in 104,3 boulbeurte: Theunis de Bruyn 101, Neil Brand 91 en Duanne Olivier 3/62

Lions 139/10 in 40,4 boulbeurte: Kagiso Rapulana 28 en Simon Harmer 7/68

Titans 46/0 in 9,2 boulbeurte: Dean Elgar 25*

Uitslag: Titans wen met tien paaltjies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Wanderers kan ‘n goeie blad vir draaiers wees weens oneweredige wip (unpredictable bounce). Veral as die blad reeds effe verweer is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.