Skuurpapier-sage raak weer rof

Cameron Bancroft en Steve Smith praat met die skeidsregters tydens die Nuweland-toets teen die Proteas. Foto: Gianluigi Garcia/AFP.

In 2018 het Steve Smith in trane uitgebars toe hy vir krieketondersteuners wêreldwyd om verskoning gevra het vir sy rol in die balpeuter-skandaal wat die Australiese span op die toer destyds na Suid-Afrika getref het.

Beeldmateriaal van die Nuweland-toets teen die Proteas het gewys hoe die Aussies – heel waarskynlik met ’n stukkie skuurpapier – aan die bal werskaf om omgekeerde swaai te probeer bewerkstellig.

As kaptein van die span het Smith volle verantwoordelikheid vir die petalje aanvaar, terwyl David Warner en Cameron Bancroft ook vir ’n paar maande uit die spel geskors was.

“Ek wil dit duidelik maak dat ek as kaptein van die Australiese krieketspan volle verantwoordelikheid neem. Ek het ’n ernstige oordeelsfout begaan. Dit was ’n gebrek aan leierskap, mý leierskap. Ek sal alles moontlik doen om te vergoed vir my fout en die skade wat dit veroorsaak het,” het Smith destyds gesê.

Maar nou het Bancroft – toe hy onlangs oor die voorval uitgevra is – aangedui dat die span se boulers ook van die hele skuurpapier-storie bewus was toe hulle veldwerk gedoen het.

“Ja, ek dink dit is taamlik vanselfsprekend (dat hulle van die skuurpapier-taktiek geweet het),” het Bancroft in ’n onderhoud gesê.

Nodeloos om te sê het sy kommentaar weer die spreekwoordelike kat in die duiwehok losgelaat en Krieket Australië (CA) het hom genader om te hoor of hy enige nuwe inligting het.

Indien Bancroft se bewering waar is, kan Mitchell Starc, Josh Hazlewood, Pat Cummins en Nathan Lyon waarskynlik ook in die sop wees.

Steve Smith, voormalige krieketkaptein van Australië, in trane tydens ʼn mediakonferensie in Sydney. Foto: AP Photo/Steve Christo.

Tog meen die voormalige Australiese paaltjiewagter, Adam Gilchrist, dat die meeste internasionale spanne skuldig aan balpeutery was. Hy het bygevoeg dat dit net ’n kwessie van tyd was voordat nog name by die Aussie-skandaal genoem is.

“Dit sal naïef wees om te dink dat mense nie bewus was van wat aangegaan het nie en ek dink nie Krieket Australië moet dieper delf nie,” het Gilchrist gesê.

“Daar moet nog ’n hele paar mense wees wat meer van die voorval weet en hulle is gereed om daardie sneller te trek wanneer die tyd reg is. Toegegee, in die aanloop tot die Nuweland-toets het die meeste internasionale spanne iets gedoen om omgekeerde swaai te bewerkstellig en dinge het buite beheer begin raak.”

Stuart Broad, die Engelse snelbouler, is ook skepties dat die drie sondebokke bewus was van die skuurpapier-tegniek.

“In die Engeland-span sal almal weet wanneer iemand probeer om omgekeerde swaai te bewerkstellig. Dit sal interessant wees om te sien wat David Warner als sal kwytraak as hy besluit om eendag ’n boek te skryf,” het Broad gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jack Russ1 ·

Dit het vir my ook nie sin gemaak dat net daardie 3 geweet het wat aangaan nie. Die hele span moes daarvan bewus gewees het

johan ·

Proteas se kaptein was 2 keer vir wedstryd of 2 geskors vir bal peutery. Dis algemeen deur spanne gedoen. Australie se eie krieket beheer liggaam het heeltemal oor reageer met die lang skorsings.

Jack Russ1 ·

Jip, jy is reg. Hulle het hom geskors en dit was reg gewees, hulle moes hom net nog langer geskors het.

Daar is geen plek in die spel vir dit nie.

koos10 ·

Peuter lekker en wees oneerlik, maar as jy gevang word huil jy.

Therese ·

Hopelik ‘n sweempie van ‘n gewete?
Ander peuter herhaaldelik sonder om ooit ‘n traan te stort. (ritssluiters ens.)
Die vernedering voor die hele wêreld was ‘n erger straf as wat enige vorige balpeuteraars ooit gestraf is.

Jack Russ1 ·

Nee wat, as jy enige sport speel, ken jy die reels. As jy die reels breek moet jy jou pak vat.

Ander het wel oortree in die verlede, maar dit maak nie dat volgende oortredings oorgesien moet word nie.

Ek sal wel wil sien dat dieselfde oortredings dieselfde strawwe moet kry

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.