Twee Jhb-boorlinge in Ierse elftal

Ierland se Curtis Campher. (Foto: Ishara S. Kodikara/AFP)

Suid-Afrikaans gebore krieketspelers wat vir ander lande kolf en boul is niks nuuts nie; dink byvoorbeeld aan Kevin Pietersen en Devon Conway.

Nou is daar twee Johannesburg-boorlinge, Curtis Campher en Graham Hume, in die Ierland-elftal vir die toets teen Engeland op Lord’s.

Die 24-jarige Campher is ʼn oudleerder van St Stithians College en hy was ook ʼn lid van Suid-Afrika se o. 19-krieketspan.

Hy was later in sy loopbaan vir Leinster en Munster in aksie en het gekwalifiseer om vir Ierland te speel omdat sy ouma in die Londonderry grootgeword het.

Die veeslydige speler het Ierland reeds in drie toetse verteenwoordig, terwyl hy al 59 keer vir die land se witbalkrieketspanne (T20 en eendag) op die veld gestap het.

Curtis het vroeër slegs die derde bouler geword om vier paaltjies van vier aflewerings in ’n internasionale T20-wedstryd te neem toe hy verwoesting teen Nederland gesaai het.

Hy het van Colin Ackermann, Ryan ten Doeschate, Scott Edwards en Roelof van der Merwe ontslae geraak en die Hollanders is vir slegs 106 lopies uit te knikker.

Op sy beurt het die 32-jarige Hume sy professionele buiging in 2010 vir Gauteng gemaak, terwyl hy ook ʼn lid van die SA o. 19-span was.

Dié snelbouler het 318 paaltjies in sy 101 eersterangse wedstryde geneem en hy het vanjaar sy toetsbuiging vir Ierland teen Bangladesj gemaak.

Ierland kry reeds die wind van voor

Die Iere sukkel egter reeds op Lord’s nadat Engeland die loot gewen en besluit het om eerste te boul.

Stuart Broad het binne ʼn japtrap van Peter Moor (wat in Harare gebore is), Andy BalbirnIe en Harry Tector ontslae geraak.

Ná 14 boulbeurte het Ierland op 36/3 gewankel.

  • Spanne:

Engeland: Ben Duckett, Zak Crawley, Ollie Pope, Joe Root, Harry Brook, Ben Stokes (kaptein), Jonny Bairstow, Stuart Broad, Jack Leach, Josh Tongue en Matthew Potts.

Ierland: James McCollum, Peter Moore, Andy Balbirnie (kaptein), Harry Tector, Paul Stirling, Lorcan Tucker, Curtis Campher, Andy McBrine, Mark Adair, Fionn Hand en Graham Hume.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.