Vaart en wip laat blitsige Anrich glimlag

Suid-Afrika se Anrich Nortjé is een van die vinnigste boulers ter wêreld. Foto: Indranil Mukherjee/AFP.

In Anrich Nortjé, Kagiso Rabada, Marco Jansen, Lungi Ngidi en Wayne Parnell beskik die Proteas oor een van die beste groep snelboulers by die T20-Wêreldbeker in Australië.

Die 28-jarige Nortjé het juis vir Bangladesj met sy kartetse van 150 km/h laat bontstaan om vroeër die week met ʼn boulontleding van 4/10 te spog.

Nou meen verskeie kenners dat daar sommer vier spoedvrate vandag teen Indië losgelaat moet word. Perth is immers ʼn snelboulparadys.

“Ons het vertroue in ons vermoëns en ons glo dat ons snelboul-aanval met die beste kan saamgesels,” het Nortjé gesê.

Die Protea-blitstrein het egter ook gewaarsku dat die boulers nie té hard moet probeer om vinnig te boul nie. Ja, daar is inderdaad geen plaasvervanger vir spoed nie, maar slim boulwerk kan net so gevaarlik wees.

“Ons verwag baie vaart en wip in Perth. Dit is terselfdertyd belangrik om te bepaal wat die beste lengte op die baanblad is en niks buitensporigs met elke aflewering te doen nie. Ons moet die gewone dinge so goed moontlik probeer doen om te keer dat die Indiese kolwers lopies aanteken.”

Virat Kohli en Quinton de Kock. (AP Photo/Altaf Qadri).

In KL Rahul, Rohit Sharma, Virat Kohli en Suryakumar Yadav spog Indië met ʼn gedugte kolfeenheid. Boonop het Kohli – wat vroeër net soos Temba Bavuma maar met sy spelpeil gesukkel het – die groot wedstryd teen Pakistan met ʼn onoorwonne beurt van 82 lopies vir sy span beklink.

Volgens Nortjé sal die opslagbal een van die belangrikste wapens in sy aanvalskoker wees en hy het die hoop uitgespreek dat snelboulers eendag toegelaat sal word om dit meer as een keer per boulbeurt af te stuur.

“Nou moet jy dit egter oordeelkundig gebruik en jy kan nie bekostig om meegevoer te raak nie. Opslagballe lyk soms baie indrukwekkend, maar dit is nie noodwendig altyd doeltreffend nie. Kalmte en rustigheid is dikwels die sleutel tot sukses, selfs wanneer die adrenalien deur jou are bruis.”

Suid-Afrika sal ook duim vashou dat Quinton de Kock en Rilee Rossouw weer vir ʼn uitstekende aanloop tot die Protea-kolfbeurt sal sorg.

De Kock slaan sy lopies teen ʼn treftempo van 196,42, terwyl Rossouw agt sesse in sy honderdtal teen Bangladesj gemoker het.

Oudergewoonte sal Bavuma weer eens onder die vergrootglas wees; die Protea-kaptein slaan deesdae bitter min lopies.

Tog glo Nortjé dat Suid-Afrika oor genoeg skietgoed beskik om goeie krieket te speel.

“Ons speel al vir ʼn hele ruk saam en elke speler weet wat sy rol in die elftal is. Ek dink ons het ʼn baie goeie span.”

Die wedstryd teen Indië begin vandag om 13:00 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

Hopelik bly die reën weg.

Groep 2-punteleer:

  1. Indië: 4 punte; netto lopietempo van 1,425
  2. Suid-Afrika: 3 punte; netto lopietempo van 5,200
  3. Zimbabwe: 3 punte; netto lopietempo van 0,050
  4. Bangladesj: 2 punte; netto lopietempo van -2,375
  5. Pakistan: geen punte; netto lopietempo van -0,050
  6. Nederland: geen punte; netto lopietempo van -1,625.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Dit is iemand met baie ondervinding wat so praat en hy praat nie net nie hy doen,nie iets wat ons van ons kaptein kan sê nie,maar kan mens ter veragting ook sê dat de Kok,Rossouw en Stubbs nie lopies aangeteken het teen Indië nie.Miller en Markram het in die middelorde die wa deur die drif getrek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.