Vat so, Kiwi’s!

Die Protea-vrouekrieketspan het Nieu-Seeland met 65 lopies in die Paarl geklop. Foto: Twitter.

Die Protea-vrouekrieketspan het gister dubbel en dwars vir hul treurmare teen Sri Lanka vergoed toe hulle Nieu-Seeland met 65 lopies in die Paarl geklop het.

Dit was slegs die Suid-Afrikaners se derde oorwinning in 13 probeerslae teen die Kiwi’s en dit het op die beste moontlike tyd gekom; in ʼn T20-Wêreldbekerskouspel op hul tuisveld.

Chloe Tryon het die Nieu-Seelanders met kolf en bal onder druk geplaas en sy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys.

Haar 40 lopies van 34 aflewerings het eerstens gesorg dat die Proteas 132/6 in hul toegelate 20 boulbeurte kon aanteken, waarna sy met ʼn boulontleding van 2/12 gespog het.

Die Wit Varings is vir net 67 lopies uitgeknikker – hul tweede laagste telling ooit in dié weergawe van die spel.

Nonkululeko Mlaba het ook haar waarde tot die span onderstreep toe sy binne haar eerste twee boulbeurte van Bernadine Bezuidenhout (0) en Suzie Bates ontslae geraak het.

“Ons het ná ons vorige wedstryd vir mekaar gesê dat ons die intensiteit op die veld hoog moet hou, lopies slaan en ʼn mededingende telling opstel. Die draaiers het briljant vertoon, maar die ander boulers het hulle goed ondersteun; ek is baie tevrede met ons boulvertoning,” het Suné Luus gesê.

Die Protea-kaptein was ook in haar noppies met Tryon se vertoning.

“Sy is beslis ʼn legende! Nadat sy nie op haar beste teen Sri Lanka was nie, het sy nou beslis haar waarde tot die span met ʼn uitstekende vertoning onderstreep.”

Die Proteas speel Saterdag teen Australië.

  • Opsomming van telkaart:

Proteas 132/6 in 20 boulbeurte: Chloe Tryon 40, Nadine de Klerk 28* en Eden Carson 2/23

Nieu-Seeland 67/10 in 18,1 boulbeurte: Sophie Devine 16, Nonkululeko Mlaba 3/10 en Chloe Tryon 2/13.

  • Punteleer (Groep 1):
  1. Sri Lanka: 4 punte
  2. Australië: 2 punte
  3. Suid-Afrika: 2 punte
  4. Bangladesj: geen punte
  5. Nieu-Seeland: geen punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

George ·

Moenie te gou grootkop kry nie, die kompitisie is nog ver van klaar.

Bre ·

Ek stem, maar n wen teen die Kiwi’s is iets om oor trots te wees. Hulle (Kiwi’s) word so stadig maar seker in die bek geruk.

Bre ·

Ek stem. Die Kiwi’s se hoogmoed word so stadig maar seker in die bek geruk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.