Vaughan gooi modder oor kolfblad

Michael Vaughan. Foto: Instagram.

Terwyl Kevin Pietersen in ’n onderhoud gesê het Engeland moet ophou kla oor die kolfblaaie in Indië, het Michael Vaughan voortgegaan om sy misnoeë te kenne te gee.

Die voormalige Engelse kaptein het ’n foto van homself op sosiale media geplaas waar hy in omgedolwe grond kolf.

“Voorbereiding vorder fluks vir die vierde toets!” het hy onderaan geskerts.

Dit kom nadat Engeland binne twee dae in die vorige toets in Ahemdabad met tien paaltjies verloor het.

Hoewel Indië skaflik in hul tweede beurt op die einste blad gekolf het, is die kolfblaaie ongetwyfeld onder die vergrootglas in die reeks.

Selfs die tuisspan se Yuvraj Singh het gesê dat die blad nie goed vir toetskrieket is nie, terwyl Gautam Gambhir meen dat ’n ouddraaier soos Anil Kumble waarskynlik sy loopbaan met 1 000 paaltjies sou afgesluit het as hy meer op sulke oppervlakke kon speel.

Die vierde toets het vanoggend op die einste veld begin en die Engelse was weer eens kniediep in die moeilikheid met hul telling op 30/3.

Ben Stokes (46) en die belowende Ollie Pope is egter besig met ’n klein terugvegpoging en die jongste beskikbare telling is 109/4.

Dié keer het Vaughan eerder die Engelse kolwers as die kolfblad gekritiseer.

“Dit is Engeland se swakste kolfvertoning in die afgelope paar toetse. Dit is die perfekte kolfblad om ’n groot eerstebeurttelling aan te teken omdat die bal nie tans draai nie. Hulle kolf tot dusver baie swak,” het hy geskryf.

Intussen is Marcus Trescothick as Engeland se permanente kolfkonsultant aangestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.