Die As-reeks tussen Australië en Engeland wat Donderdag in Brisbane begin, het reeds vir sy tradisionele vonke voor die reeks se aanvang gesorg.
Vir spelers en ondersteuners in hierdie twee krieketlande is dit dié hoogtepunt in hul krieketlewens – en dit is interessant dat albei spanne na 69 reekse 32 oorwinnings behaal het.
Die vorige As-reeks in Australië in 2013/’14 het 5-0 in die tuisspan se guns geëindig – en die Gabba is ʼn veld waarop Australië in 1988 laas, teen Wes-Indië, verloor het.
Die media het dit reeds deeglik onder Engeland se aandag gebring dat hulle in die laaste 71 jaar nog net twee keer op die veld gewen het en waar die kolfblad se vaart en wip, die aggressiefste skare in Australië, en die hitte en humiditeit teen die Engelse sal tel.
♦ Daar was, amper soos dit voor groot boksgevegte gaan, heelwat grootpratery van veral die Aussies se kant af.
Daar is die “belofte” van die drie Aussie-snelboulers, Josh Hazlewood, Mitchell Starc en Pat Cummins, om die berugte “donder en weerlig” in Brisbane op die veld na te doen en dat veral die nuweling-kolwers in die Engelse span, soos Mark Stoneman en Dawid Malan, behoorlik geteiken sal word.
♦ Dit lyk of die tuisspan, wat glo hierdie drie blitse en die draaier Nathan Lyon is die beste boulaanval ter wêreld, net vier boulers sal inspan. Die snelboulers sal dan in kort skofte gebruik word sodat hulle die hele tyd voluit kan boul.
Al drie van hulle kan gereeld balle van meer as 145 km/h afstuur.
Daar sal klaarblyklik nie ʼn vyfde bouler wees wat hulle effens kan aflos nie, en dit is ʼn kans wat die tuisspan neem. Hoewel Lyon seker meer as sy aandeel sal boul, sal dit beteken die drie vinnige manne sal almal meer as 20 beurte moet afstuur.
Maar as die nood werklik druk, kan die kaptein Steve Smith natuurlik ook ʼn paar draaiers afstuur.
♦ Na sy onbesonne bakleiery in ʼn nagklub sal daar geen Ben Stokes in die Engelse span wees nie en hy sal waarskynlik glad nie in die reeks gesien word nie. Dit lyk of Moeen Ali na nommer ses in sy plek sal opskuif. Johnny Bairstow sal op nommer sewe bly, waar hy die gawe het om die beste uit die stertkantkolwers te haal en die telbord aan die rol kan hou.
♦ Benewens die “ons sal julle laat bontstaan-praatjies” van die Aussies, is daar ook die beroep van hulle afrigter Darren Lehmann dat die land agter hulle span moet verenig.
Dit volg nadat oud-spelers die spankeuse van die keurders onder die sameroeper Trevor Hohns buitengewoon kwaai gekritiseer het.
Dit het trouens ontaard in ʼn moddergooiery waar oud-spelers die span se verkose spelers van die een krieketstaat teen die ander afgespeel het – amper soos die vergelykende “provinsiale” vooroordeel in Suid-Afrikaanse rugby!