Virat sien uit om onder kaptein Faf te speel

Faf du Plessis. Foto: Rodger Bosch/AFP.

Faf du Plessis sal Sondag vir die eerste keer die Royal Challengers Bangalore (RCB) op die veld lei wanneer hulle teen die Punjab Kings speel.

Die 37-jarige speler is vroeër as RCB se kaptein vir die komende Indiese Premierliga (IPL) aangewys nadat Virat Kohli aangekondig het dat hy ná agt seisoene nie meer bereid is om die span op die veld te lei nie.

En volgens Kohli sien hy daarna uit om onder die Suid-Afrikaner se bekwame leiding te speel.

“Faf is ’n bekwame toetskrieketkaptein en ons is opgewonde oor sy leierskaprol. Hy gaan hom uitstekend van sy taak kwyt,” het vurige Indiese speler gesê.

Benewens sy leierskapvaardighede is Du Plessis ook ’n baie goeie speler. Hy het reeds 93 IPL-wedstryde gespeel waarin hy 2 935 lopies teen ’n gemiddeld van 34,94 en ’n treftempo van 131,09 gemoker het.

Terselfdertyd weet hy nie net hoe om in groot wedstryde lopies te slaan nie, maar ook hoe om hulle te wen.

In verlede jaar se eindstryd (weliswaar in die kleure van die Chennai Super Kings) het sy 86 lopies ’n groot rol in sy span se uiteindelike sukses gespeel.

“Die senior spelers – Glenn Maxwell en Dinesh Karthik – kom goed met hom oor die weg en ek is seker dat almal die komende toernooi baie sal geniet,” het Kohli gesê.

Du Plessis het in Februarie 2021 sy uittrede uit toetskrieket aangekondig, maar hy het toe gesê hy is steeds beskikbaar vir die Proteas in hul T20-veldtogte.

“Ek weet dat ek nog baie het om vir die Proteas in hierdie formaat te bied. Dit beteken nie dat ek nie meer eendagkrieketplanne het nie, T20-krieket is net tans die hoofprioriteit,” het die voormalige kaptein destyds gesê.

Hoewel hy nie vir die Suid-Afrikaners se T20-Wêreldbekerspan gekies is nie, spreek die RCB-kapteinskaprol boekdele van die respek wat die internasionale krieketgemeenskap vir hom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.