Warner, Aussies verrinneweer die Windies

David Warner het ’n onoorwonne 89 lopies vir Australië gestaan. Die Windies se Chris Gayle en Dwayne Bravo het hul laaste internasionale T20-wedstryde gespeel. Foto: Indranil Mukherjee/AFP.

Die Proteas sal nou meer as net ’n haas uit die hoed moet pluk indien hulle vir die halfeindstryd van die T20-Wêreldbeker wil kwalifiseer.

David Warner het vandag die Australiese keurders se vertroue in hom bevestig toe hy saam met Mitchell Marsh en Josh Hazlewood toegesien het dat die Aussies vir die Wes-Indiese Eilande met agt paaltjies ore aangesit het.

Warner (89 van 56 balle) het die Windies-boulers gestraf en die Australiërs het die wedstryd op ’n drafstap binne 17 boulbeurte gewen.

Aaron Finch-hulle se netto lopietempo het weer eens die hoogte ingeskiet; dit is nou +1.216 en hulle staan waarskynlik reeds met een voet in die halfeindstryd.

Intussen het Engeland die loot gewen en besluit om eerste in Sharjah teen Suid-Afrika te boul.

Volgens Cricinfo sal die Proteas – indien hulle 161 lopies in hul toegelate 20 boulbeurte aanteken – die Engelse vir 100 moet uithaal om na die halfeindstryd deur te dring.

As Temba Bavuma en Kie. maar net beter in hul eerste wedstryd teen die einste Aussies gespeel het.

Proteas: Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Rassie van der Dussen, Temba Bavuma, Aiden Markram, David Miller, Dwaine Pretorius, Kagiso Rabada, Keshav Maharaj, Anrich Nortjé en Tabraiz Shamsi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.