Warner: Gaan dié hotklou ook teen die Proteas vou?

Gaan David Warner teen die Proteas lopies slaan, of gaan vroeg uitgehaal word? Foto: Jon Super/AFP.

David Warner het destyds in sy T20-buiging 89 lopies van slegs 43 aflewerings teen die Proteas in Melbourne gemoker. Die veglustige openingskolwer het toe sewe viere en ses sesse in sy beurt geslaan.

Maar dit was 12 jaar gelede en deesdae sukkel die 34-jarige speler om lopies aan te teken.

In sy laaste vier kolfbeurte het hy onderskeidelik 1 (teen Indië), 0 (teen Nieu-Seeland), 2 (teen die Punjab Kings) en 0 (teen die Delhi Capitals) tot sy span se telling bygedra.

Die Sunrisers Hyderabad het hom selfs as hul kaptein in die afgelope Indiese Premierliga in die pad gesteek, terwyl Anrich Nortjé (in die kleure van die Delhi Capitals) spoedig van hom ontslae geraak het.

Maar Aaron Finch – Australië se T20-kaptein – het vroeër gesê dat die beleërde Warner die kolfwerk saam met hom in die komende Wêreldbeker-toernooi sal open.

“Hy is een van die beste kolwers wat nog ooit vir Australië gespeel het en al het hy min wedstryde die afgelope ruk gespeel, weet ek dat hy slaggereed is om die wêreld se voorste boulers te trotseer,” het Finch gesê.

Dan, om ’n bietjie van Hashim Amla se krieketwysheid te leen: ’n Speler is net so goed soos sy volgende wedstryd; en Australië se volgende kragmeting is môre teen die Proteas in Abu Dhabi.

Operasie Regruk begin dalk net môre vir Warner.

Die Suid-Afrikaners is, ondanks al die teleurstellings op die veld en al die fiasko’s in die raadsaal, egter die gunstelingspan om die wedstryd te wen.

Die Proteas het nege agtereenvolgende T20-wedstryde gewen, terwyl ’n uitstekende Rassie van der Dussen boonop Woensdag teen Pakistan gewys het dat ’n kolwer ook ’n kragmeting vir die span kan wen.

Daarteenoor het die Aussies vier van hul laaste vyf wedstryde verloor, terwyl Indië hulle ook in ’n opwarmingswedstryd met agt paaltjies getroef het.

Tog speel Warner en Kie. gereeld beter teen die Proteas as teen ander spanne, terwyl iemand soos Glenn Maxwell ongetwyfeld vir hope vuurwerk sorg.

Die aksie begin môre om 12:00 en die wedstryd sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Pieter ·

En die proteas lewer hul beste vertoning nog. Knap gedaan kêrels. 103 vir agt. Julle dorings! Nie gedink julle sal 100 haal nie. Gaan verf die dorp rooi vanaand, span. Julle verbaas ons meer en meer met julle vasbyt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.