Watwou, Proteas wen met 1 lopie!

Tabraiz Shamsi. Foto: Randy Brooks/AFP.

Die T20-reeks tussen Suid-Afrika en die Wes-Indiese Eilande is soos om weer die 7de Laan-omnibus oor ’n naweek te kyk: Daar is baie dinge wat hulself herhaal.

Jy kan weet dat Quinton de Kock die Proteas se beste kolwer sal wees, die Suid-Afrikaners ’n teiken van net meer as 160 lopies vir die Windies sal gee om te jaag en dat Evin Lewis ’n ses van George Linde se eerste boulbeurt sal slaan.

Daarbenewens hoef jy ook nie ’n Nostradamus te wees om te voorspel dat die Proteas kwaai op Tabraiz Shamsi sal steun nie. En oudergewoonte het die draaier nie teleurgestel nie.

Shamsi is deesdae die wêreld se voorste T20-bouler en hy het gister die Windies se lopiekrane behoorlik toegedraai om slegs 13 lopies in sy vier boulbeurte af te staan, terwyl hy ook vir Lewis en Shimron Hetmyer terug na die kleedkamer gestuur het.

Ondanks sy heldedade moes die tuisspan net 19 lopies van die laaste twee boulbeurte vir ’n oorwinning aanteken; in T20-krieket is dit hoegenaamd nie ’n onmoontlike taak nie.

Anrich Nortjé het die belangrike paaltjie van Nicholas Pooran geneem. Foto: Randy Brooks/AFP.

Anrich Nortjé (2/29) het egter die gevaarlike Nicholas Pooran been voor paaltjie betrap en terselfdertyd net vier lopies van die 19de boulbeurt afgestaan om Kagiso Rabada met ’n speling van 15 lopies in die finale boulbeurt te los.

Rabada het met ’n paar goeie streepballe vorendag gekom om Fabian Allen in toom te hou en hoewel die Windie-kolwer die laaste aflewering vir ’n ses geslaan het, het die Windies dié hekkie net te hoog vir hulself gemaak.

Die Proteas loop nou met 2-1 voor in die reeks van vyf wedstryde en volgens Temba Bavuma het gister se sege vir ’n welkome selfvertroue-hupstoot gesorg.

“Ons het al voorheen in soortgelyke situasies vasgeval. Shamsi was uitstekend, terwyl hy goed deur George Linde en Aiden Markram ondersteun is. Dit maak my werk beslis makliker,” het die Proteas se witbalkrieketkaptein gesê.

Tog sal dit ook lekker wees as die res van die Protea-kolwers op De Kock en Reeza Hendricks se grondslag kan voortbou.

Maar hulle het inderdaad ’n wedstryd gewen wat hulle vantevore sou verloor het. En dit is klaar ’n reuseverbetering.

  • Opsomming van telkaart:

Proteas 167/8: Quinton de Kock 72 en Obed McCoy 4/22

Windies 166/7: Nicholas Pooran 27 en Tabraiz Shamsi 2/13

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Moedeloos ·

Ja nee – die wedstyd is nie gewen of verloof voor die fluitjies geblaas het of laaste bal geboul is nie. Well done manne. Ek het regtig gedink toe ek die wedstyd kyk HIER GAAN ONS ALWEER!

koos10 ·

Ek was geskok in ons kolfwerk. Lopie tempo moet versnel einde se kant toe, maar nee SA word stadiger, met 7 paaltjies in hand en 5 boulbeurte, en Miller wat wag om te kom kolf, kry ons 6 lopies per beurt. Dit is nie goed genoeg nie, veral met die wêreldbeker om die draai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.