WB-krieket: Sri Lanka knak vegtende Nederland

(Foto: Sri Lanka Cricket/X)

Dit bly ʼn raaisel hoe die onbesonge Nederlandse krieketspan Suid-Afrika in die huidige Wêreldbekertoernooi in Indië ore kon aansit.

Daar is steeds ook nie antwoorde daarvoor hoe die Nederlanders die Proteas in die vorige T20-Wêreldbekertoernooi in Australië geklop het nie.

Saterdag in Lucknow het Sri Lanka die Nederlanders ná hul heldedade teen die Proteas afgebring na die aarde toe hulle die kragmeting met vyf paaltjies gewen het.

Maar moet vir geen oomblik dink dat die Nederlanders nie tot aan die einde geveg het nie.

Hulle was in hul kolfbeurt ná 21.2 boulbeurte met die rug teen die muur op 91/5, maar net soos teen die Proteas het die stert weer lustig geswaai.

Die 35-jarige slimkop Sybrand Engelbrecht, wat in Johannesburg op laerskool was en ʼn MBA-graad aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het, het sewe seisoene laas eersterangse krieket gespeel toe hy vir die Cape Cobras gespeel het.

Maar hy het niks van sy vaardighede ingeboet nie hoewel hy nou net klubkrieket speel.

Hy het 70 lopies (82 balle, 4×4, 1×6) aangeteken en saam met Logan van Beek met 59 lopies (75 balle, 1×4, 1×6)) ʼn nuwe Nederlandse rekord van 130 lopies om die sewende paaltjie opgestel.

Danksy hul vegtersbeurte het Nederland ʼn heel skaflike 262/10 in 49.4 boulbeurte aangeteken. Dilshan Madushanka (4/49) en Kasun Rajitha (4/50) was Sri Lanka se beste boulers.

Sri Lanka het 263/5 in sy kolfbeurt aangeteken met Sadeera Samarawickrama met 91 (107 balle, 7×4) en Pathun Nissanka (54) wat die fort gehou het.

Aryan Duff (3/44), Paul van Meekeren (1/39) en Colin Ackermann (1/39) het wal probeer gooi, maar die wentelling was te klein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.