Windies looi Bavuma-hulle in eensydige T20

Evin Lewis. Foto: Randy Brooks/AFP.

Ná die euforie van die toetsreeksoorwinning het die Proteas gister met ’n harde slag terug aarde toe gekom toe die Wes-Indiese Eilande hulle met agt paaltjies in die eerste T20-wedstryd geklop het.

Gereelde reënonderbrekings het gesorg dat die Suid-Afrikaners se kolfenjin gesukkel het om aan die gang te kom. Maar kom ons wees eerlik: Dit was eintlik die draaiballe van Fabian Allen (2/18) en die slinksheid van die 37-jarige Dwayne Bravo (2/30) wat die besoekers op die agtervoet geplaas het.

Quinton de Kock (37 van 24 balle) was eintlik die enigste kolwer wat die bal met enige gemak na die grens kon stuur, maar ná ’n toetsreeks waar sy gemiddeld amper 120 was, het ’n mens so iets van Suid-Afrika se talentvolste kolwer verwag.

Rassie van der Dussen (56 van 38 balle) was die enigste ander Protea wat twee sesse kon slaan. ’n Telling van 160/6 teen ’n Windies-span, wat spelers soos Chris Gayle, Kieron Pollard en Andre Russell insluit, sou nooit genoeg wees nie.

Andre Russell. Foto: Randy Brooks/AFP.

Maar vergeet eers vir ’n oomblik van Gayle en Russell – hulle het eers later die lang steel ingelê. Dit was aanvanklik Evin Lewis (71 van 35 balle) en Andre Fletcher (30 van 19 balle) wat die Suid-Afrikaners se boulers wild en wakker geslaan het.

’n Paar jaar gelede was daar ’n Britse speurreeks Lewis op die kassie. En ’n mens kon vir Temba Bavuma verskoon as hy daaraan gedink het om daardie fiktiewe Lewis se dienste in te span om te help balle soek, want die Windies se Evin Lewis het in sy warrelwindbeurt sewe groot sesse geslaan.

George Linde is sommer in die eerste boulbeurt van die Windies-poging oor die skerpby-grens gejaag, terwyl Kagiso Rabada hulpeloos moet toekyk hoe daar 15 lopies van sy boulbeurt gemoker is.

Maar die bouler wat die swaarste geleef het, is ongetwyfeld Lungi Ngidi (0/46 in 3 boulbeurte). Lewis het twee sesse en twee viere van sy eerste ses balle geslaan en die Suid-Afrikaner kon nooit op dreef kom nie.

Ngidi – wat een van die voorste boulers in die toetsreeks was – het nooit minder as 11 lopies in enige van sy drie boulbeurte afgestaan nie en omdat hy so gesukkel het, moes Bavuma noodgedwonge vir Reeza Hendricks inspan.

Daardie eksperiment het egter lelik misluk toe Hendricks 21 lopies binne ’n japtrap afgestaan het.

Lewis en Fletcher het ’n openingsvennootskap van 84 lopies geniet voordat die eerste paaltjie geval het, maar daarna het die 41-jarige Gayle (32 van 24 balle) en Russell (23 van 12 balle) gesorg dat die Windies die wedstryd in 15 boulbeurte gewen het.

Toetskrieket en T20-krieket verskil hemelsbreed van mekaar en dit is ’n les wat die Proteas gister op die harde manier geleer het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

So stil soos jy was gedurende die toetse? Ek het mos gese julle sal weer onder julle klippe uitkom wanneer ons weer verloor. So terloops – die Windies is ‘n goeie T20-span, vrot andersins. T20-krieket is maar oor die algemeen baie wisselvallig, een ou kan die wedstryd wen. Kan maklik een van ons spelers wees in ‘n volgende wedstryd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.