‘Wisden’ vereer Australië se Cummins

Australië se Pat Cummins. (Foto: Sajjad Hussain/AFP)

Die gesaghebbende Wisden Almanack het Pat Cummins as sy voorste krieketspeler op die internasionale verhoog aangewys.

Die Aussie-kaptein het sy span onder meer na Wêreldbeker-glorie in Indië gelei terwyl Australië ook die As-trofee in die toetsreeks teen Engeland behou het.

O ja, onder sy toesig is Australië ook die Wêreldtoetskampioenspan nadat daar met Indië op die Oval afgereken is.

Snaaks genoeg het van sy eie land se oudspelers nie altyd veel ooghare vir sy kapteinskap gehad nie.

Die snelbouler moes hewige kritiek oor sy hantering van die hele Justin Langer-sage verduur en veral Mitchell Johnson het nie van sy hart ʼn moordkuil gemaak nie.

“Ja, Cummins het goed in die afgelope Reeks om die As geboul, maar hy het sy eerste toets as kaptein lelik gedop. Hy het baie geleenthede gehad om ʼn verlenging van Langer se kontrak te ondersteun – dit was maar ’n lamsakkige vertoning deur die nasionale kaptein as jy my vra,” het Johnson gesê.

Cummins het egter met ʼn opslagbal van sy eie vorendag gekom en onder meer gesê dat die tyd ryp vir ʼn afrigtersverandering was.

“Net soos al die oudspelers – wat nou só ʼn bohaai opskop – dra ek ook die belange van my vriende op die hart. Dit is nodig om ʼn ander afrigter aan die stuur van sake te kry,” het Cummins gesê.

Die 30-jarige snelbouler is ook aan die stuur van die Sunrisers Hyderabad in die Indiese Premierliga en hy tel tans onder die voorste vyf boulers in dié gewilde mik-en-moker-reeks.

  • Cummins se loopbaanstatistieke:

Toetskrieket: 269 paaltjies en 1 295 lopies in 62 toetse

Eendagkrieket: 141 paaltjies en 492 lopies in 88 wedstryde

T20-krieket: 57 paaltjies en 144 lopies in 52 wedstryde

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.