Wolvaardt se 184 pure verniet

Laura Wolvaardt het 184 onoorwonne lopies teen Sri Lanka geslaan. (Foto: X/IKR)

Kaptein Laura Wolvaardt se puik onoorwonne beurt van 184 lopies was pure verniet – Sri Lanka se vrouekrieketspan het die Proteas met ses paaltjies in derde eendagwedstryd op Potchefstroom geklop.

Die 24-jarige Wolvaardt het die beurt van haar lewe gespeel en sy het 27 grenshoue in haar spogvertoning geslaan. Dit is die hoogste eendagkriekettelling nóg deur ʼn Suid-Afrikaanse vrouespeler.

Sy het haar lopies van slegs 147 aflewerings gemoker en die aggressiewe benadering behoort haar loopbaan-treftempo ʼn definitiewe hupstoot te gee.

Suid-Afrika se ander top-ordekolwers het egter gesukkel en Suné Luus (0) en Delmi Tucker (1) is goedkoop uitgeknikker.

Wolvaardt het darem goeie kolfvennootskappe saam met Marizanne Kapp en Nadine de Klerk geniet en die Proteas het 301 lopies in die toegelate 50 boulbeurte aangeteken.

Maar ʼn briljante vertoning deur Chamari Athapaththu het Sri Lanka se daaropvolgende lopiejaagtog na kinderspeletjies laat lyk en die besoekers het die wenlopies reeds in die 45ste boulbeurt geslaan.

Athapaththu het die Protea-boulers met ʼn onoorwonne beurt van 195 lopies verinneweer en sy het die kragmeting terstond met ʼn ses vir haar span beklink.

Sri Lanka se telling van 305/4 is die hoogste suksesvolle lopiejaagtog in eendagkrieketwedstryde vir vrouespelers, terwyl Wolvaardt en Athapaththu die eerste spelers (vroue én mans) geword het om saam beurte van meer as 170 lopies in ʼn wedstryd te slaan.

  • Opsomming van die telkaart:

Proteas 301/5 in 50 boulbeurte: Laura Wolvaardt 184*, Marizanne Kapp 36 en Kavisha Dilhari 2/47.

Sri Lanka 305/4 in 44,3 boulbeurte: Chamari Athapaththu 195*, Nilakshika Silva 50* en Ayabonga Khaka 2/54.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Sri Lanka wen die T20 en ek dink die ODI’s het gelykop geeindig. Lyk my hulle is beter as die Proteas en hoort bo hulle op die ranglys. Sal ander talent moet soek. Wolvaardt is darem wereldklas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.