Mening: Druk op Engelse rugbybase en Eddie ná swakste seisoen in 16 jaar

Die Springbokke vier hul oorwinning op Twickenham. Foto: Iang Kington/AFP.

ʼn Mens moet jou glo nie in ʼn ander se leed verlustig nie, maar dit was darem lekker om te hoor hoe selfs Twickenham se skare hul span Saterdag ná die eindfluitjie uitgejou het!

Vir die oudstryders as spelers van die span en ook toeskouers wat al jare lank die Engelse deur dik en dun ondersteun, was dit ʼn skok.

Die lekker vir my was grotendeels oor die aanhoudende geneul van Engelse rugbyskrywers, omdat Suid-Afrika kwansuis nie die bal rondgooi nie en net op die voorspelers vertrou. En is hulle nie deur die Bokke se oortuigende oorwinning geskud nie!

Hulle is nou stil nadat hul voor- én agterspelers deur dié van die Springbokke ʼn paar lesse geleer is. Die Engelse afrigter, Eddie Jones (na ʼn groot boete oor blaserskritiek in 2008), was agterna versigtig – maar hy het darem so effe skuinsweg gekla oor die skrumbeslissings van Saterdag se skeidsregter, Angus Gardner.

Suid-Afrika het heelwat strafskoppe uit dié faset gekry.

Eddie Jones is ʼn vriendelike ou, het ek jare gelede gevind, maar dis tóg lekker om te lees dat hy ná die naweek oor die skeidsregter teenoor die pers gebrom het. Die Britse pers is ook maar versigtig oor wat Jones te sê gehad het, veral nadat hulle Rassie Erasmus so verguis het.

  • Dit is voorwaar krisistyd vir Engelse rugby.

Nie net het ʼn parlementêre komitee die hoofbeampte van die RFU, Bill Sweeney, die kop gewas nie. Die voorsitter van dié komitee, Julian Knight, was skrynend in sy kommentaar en het ondermeer ook gesê dat hy nog nie sulke wanbestuur en swak organisasie soos dié by die RFU gesien het nie.

Knight het Sweeney selfs ook gevra of hy dit nie moet oorweeg om te bedank nie. En vir die hoof van die Engelse Premierliga, Simon Massie-Taylor, het hy gesê dat hy sou moes bedank het as hy in ʼn soortgelyke posisie by Engelse sokker se uitsoekliga was.

Die aanstelling van die parlementêre komitee het gevolg nadat Worcester en Wasps, weens geldprobleme en ook wanbetaling van belastinggeld, so twee maande gelede onder administrasie geplaas is en uit die Premierliga geskop is.

Dalk ʼn nuwe afrigter?

Eddie Jones. Foto: Adrian Dennis/AFP.

En Eddie Jones se kop is ook op die blok. Sy span het vanjaar net vyf van sy 12 wedstryde gewen – die swakste wat Engeland sedert 2008 gevaar het.

Die Londense Guardian skryf dat die Engelse base sommer baie omgekrap is oor die nederlaag teen die Springbokke en oor die algemene swak vertonings deur die jaar.

Daar word selfs bespiegel dat hulle oor die volgende twee weke sal besluit om óf Jones as afrigter tot ná die Wêreldbeker aanstaande jaar te behou, óf ʼn nuwe man aan te stel.

Dit sal seker nie daarby uitkom nie. Maar as hulle wil verander, moet hulle dit nóú doen.

Die raad en uitvoerende bestuur van die Engelse Rugby Football Union (RFU), saam met onafhanklike oud-spelers en afrigters, sal glo besluit wat gedoen moet word voordat die Sesnasiestoernooi gespeel word.

Vanjaar was die derde opeenvolgende jaar waar Engeland slegs derde in dié toernooi kon eindig.

Met net ʼn raps meer as nege maande voordat die Wêreldbeker in Frankryk afskop, is dit ʼn belangrike besluit wat op Engeland se grootkoppe wag.

Hulle het begin 2022 die mikpunt van tweede of derde op Wêreldrugby se ranglys gestel, maar Engeland is nou vyfde – ʼn volle 5,31 punte agter die Bokke wat met die doelskop van Engeland se drie uit die derde plek gehou word.

Engeland het net een van die vier “herfstoetse” (teen Japan 32-13) gewen, teen Suid-Afrika en Argentinië verloor en teen die All Blacks gelykop gespeel.

Jones gaan ondermeer glo vasgevat word oor sy spelers se dissipline, oor Jones se ondersteuningspersoneel en oor die leiersgroep in die span.

Dit is juis dié sake wat Jones opgehaal het toe hy voor die “herfstoetse” met die uitvoerende bestuur gepraat het.

Daar is glo ook spelers wat ongelukkig is met die toedrag van sake en hulle sal ook terugvoering aan die RFU se raad gee.

Bill Sweeney, Engeland se hoofbeampte, is nou op die oorlogspad nadat hy as asleep on the job” beskryf is tydens die parlement se gesprek ná die fiasko waar Wasps en Worcester om finansiële redes uit die Premierliga gesmyt is. (Al hul spelers en personeel was daarna sonder inkomste.)

Jones het ná vanjaar se Sesnasiesreeks die steun van die uitvoerende bestuur gekry, ondanks ʼn droewige reeks waar hulle net teen Italië (33-0) en Wallis (23-19) gewen het met Skotland (20-17), Ierland (32-15) en Frankryk (32-15) wat teen Engeland gewen het. Engeland was derde van die ses spanne.

Is Suid-Afrika werklik ʼn sportmal land?

Dit was darem veel makliker om sport so 30, 40 jaar gelede te bedryf. Dinge beweeg deesdae soveel vinniger.

David Miller is een van die wêreld se T20-sterre. Foto: Twitter.

Daar is reëlveranderings; rugbyspelers wat tot 35 en selfs meer wedstryde per jaar speel; krieket wat in drie formate internasionaal gespeel word met die T20s (en ook die nuwe 100-formaat) wat toetskrieket en selfs eendag-krieket skeeftrek; atletiek se Diamantliga; vrouerugby; sewes wat al hoe groter word en ook internasionaal op studentevlak gespeel word; netbal-wêreldbekers; sokker se wêreldbeker; ysterman-kompetisies; ʼn internasionale hokkietoernooi in Potchefstroom waar ons mansspan weer uitblink; die Grand Prix-motorrenne; tennis se Davisbeker vir mans en die Billie Jean King-beker vir vroue (voorheen die Federasiebeker) in tennis se internasionale spankompetisies; die tennistoernooi met wêreldsterre wat eersdaags in Soweto gespeel word…

Lankal word nasionale rugbyproewe nie meer deur rugbylande gespeel nie, omdat hul voorste spelers week-in en week-uit op die kassie beoordeel kan word. En ook omdat daar in elk geval nêrens ʼn oop dag of week is om al die aanspraakmakers bymekaar te kry nie.

En so kan ʼn mens aangaan.

Dit verander egter nie daaraan dat ons, bekend as ʼn sport- en veral rugbyland, nie in groot getalle by ons eie vernaamste sporte se wedstryde opdaag nie.

En ek praat nie net van deelnemers nie. Hoeveel mense ondersteun klubrugby of -krieket? Hoeveel gaan kyk na plaaslike atletiek? En al die ander sporte?

Skolesport? Ja, die manne wat veral by ons voorste skole gespeel/ skoolgegaan het, is gereeld by van die vernaamste wedstryde.

Maar wat van die ander skole se rugby-, sokker-, netbal-, atletiek-toeskouers? Gaan net die ouers kyk, dít terwyl almal sê skolerugby is so aanskoulik?

  • Vergelyk ons yl-gesaaide toeskouers by ons grootste rugbywedstryde met twee rugbystadions, die een in Ierland en die ander in Engeland. Hulle is die afgelope drie weke deur 40 000-plus toeskouers volgepak. Uitverkoop!

Die toeskouers was daar om hul (ietwat verswakte) plaaslike spanne teen die Springbok ‘A’-span te sien speel. Boonop ook in reën- en yskoue weer in Limerick!

By ons sou die ooreenkoms van bostaande wees enige van ons vier franchise-spanne (Stormers, Bulls, Sharks en Lions) wat met verswakte spanne teen Engeland ‘A’ of Nieu-Seeland se naasbestes speel.

Hoeveel toeskouers sal daar opdaag?

Stormers-ondersteuners (Foto: Hansie Linde)

Kyk maar hoe droewig is ons eie bywoning, behalwe in ʼn paar uitsoek-toetse en teen die sterkste besoekende rugbyspanne… en dit geld ook vir krieket.

Drie van ons vier VRK-spanne, insluitende die Lions wat fluks voortbou op hul tande-wys teen die einde van die 2021/22 Verenigde Rugbyreeks (VKR), tel tot dusver tussen die bestes in die huidige VKR-reeks, met die Sharks se loesing teen Cardiff (0-35) die afgelope naweek wat hulle duur te staan kan kom.

Die swak bywoning by ons is geen verskoning as jy kyk na die goedkoop toegangsgeld van ons rugbyunies nie, waar die Bulls en Vrystaat selfs so min as R25 per kaartjie vir toegang gevra het.

Dis by ons die uitsondering as daar meer as 10 000 toeskouers is.

By Munster, wat die Suid-Afrikaanse A-span sonder sy toetsspelers en sommige ander staatmakers geklop het, is die toegangsgeld per ligawedstryd tussen £20-40, oftewel R400-600. En daar was 41 000 toeskouers in die reën en wind om hul span teen ons tweede bestes te sien.

  • Die goeie en heerlike rugby in die Wêreldbeker-eindstryd tussen die vroue van Nieu-Seeland en Engeland, is nog ʼn goeie voorbeeld van ware rugbyondersteuners en is in ʼn volgepakte Edenpark voor 45 000 toeskouers gespeel.

Dit sal interessant wees om te sien hoeveel aftrek die nuwe T20-reeks tussen Suid-Afrikaanse spanne, geskoei op die IPL-reeks van Indië, gaan kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

vuurvliegie ·

SA was verseker ‘n sport mal land en is nog seker in ‘n mate nadat baie sport toeskouers ophou sport kyk en ondersteun het. Die handtjie sportmal ondersteuners wat oorbly het ook ander lande begin ondersteun agv baie redes wat bekend is.

Hennie Biebouw ·

SARU is ‘n enorme kopseer vir die politici.
Ons Springbokspan en baie van die unies is ten volle getransformeer met wêreldklas spelers van kleur wat op meriete daar is, en ons wen steeds en gee uitstekende rekenskap van onsself op die wêreldranglys ….
Dit laat die res van die kaderbestuurde sport maar sleg lyk…veral sokker met sy 1,469,410 geregistreerde spelers (Rugby daarinteen het 121,663 geregistreerde volwasse spelers)

Ek het nog altyd gesê, en spesifiek met verwysing na krieket, ons het meer as genoeg spelers van kleur wat op meriete plek in ‘n dominante span verdien…maar hulle word nie gekies nie, want dis nie hul unies wat kopknik na bo nie…

capie ·

Haal die politiek uit die sport uit en miskien is daar meer ondersteuners. Hoe kan jy dan die afrigter wil bykom as hy voorgesê word hoe sy span moet lyk.

vuurvliegie ·

Dis waarom baie suid afrikaners vir ander lande soos die All Black’s ondersteun. Hulle wil goeie rugby kyk sonder politieke inmenging.

Hennie Biebouw ·

Dis net ‘n dwaas wat Engeland nou reeds afskryf vir RWB 23…

Kirst ·

Te veel sport. Toe ek op skool was, het die Springbokke nooit internasionaal gespeel nie. Ons het net die Curriebeker gehad, en het elke wedstryd gekyk waarin die Bulle gespeel het. Noord-Transvaal was terloops die enigste SA span wat ‘n ander naam gehad het as die unie se naam. Die Leeus en Haaie ens het eers tydens Superugby bygekom.
Daar was ook definitiewe seisoene. Rugby was ‘n wintersport en krieket ‘n somersport. Nou werk dit nie meer so nie, en daar is soveel kompetisies dat selfs die Curriebeker (die toernooi wat al die langste aankom in die wereld as ek reg onthou) nie meer aftrek kry nie. Die VRK gaan in Desember voort as ek dit nie mis het nie. En sport gaan kyk in die stadion het ‘n luukse geraak. Die kaartjies mag wel soveel as ‘n liter diesel kos, maar hoeveel diesel moet jy uitry om daar te kom? Ons woon in die platteland, maar gaan vir seker ‘n wedstryd van die SA20 kyk in Paarl in Januarie. Ons het met die Mzansi liga ook twee wedstryde daar gaan kyk, en dit was vol

Treurwilger ·

Jy is doodreg dat daar net té veel sport is deesdae.
Die Aussie krieketspeler Maxwell het dan sover gegaan om te sê die span voel nie eers bek-af omdat hulle nie hul titel as wêreldkampioene kon verdedig nie!
Waarom sou kykers dan hoegenaamd nog opgewonde raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.