Mening: ʼn Vol naweek van sportvreugde en trotse mylpale

(Foto: GB Jordaan)

Volpunte… ja, vyf uit vyf Suid-Afrikaanse spanne sal aan die Europese Kampioenskap en die Europese Uitdaagreeks deelneem…

Daar is ook groot vreugde vir en oor Dricus du Plessis, wat ons eerste wêreldtitel in gemengde gevegkuns (MMA) gewen het.

Maar daar was die afgelope naweek veel meer. Jy moes werklik jou TV-kanale ken om by te bly by ons SA20-krieketreeks, die wedstryde van al vyf die Suid-Afrikaanse spanne wat Saterdag in die Europese Rugbykampioenskap en die Europese Uitdaagreeks gespeel het, die Australiese Ope wat aan die gang is, die voorbereiding en kies van ons twee sewesspanne wat komende naweek in Perth deelneem, Bafana wat swak weggespring het en toe vir Namibië afgeslag het, maar nog sal moet uithaal om die uitspeelrondes van die Afrika Nasiesbeker te maak…

En dan was daar ook nog die gholf in Dubai.

Vyf uit vyf vir SA se spanne in oorsese reekse

Maar omdat rugby (en nou, na die Wêreldbeker) onteenseglik die nasionale sport van Suid-Afrika is, is die fokus vir eers op die oorsese reekse waaraan die Stormers, Bulls, Lions, Sharks en Cheetahs deelneem.

Die Stormers het vier drieë in hul onlangse wedstryd teen die Sale Sharks gedruk. (Foto: Hansie Linde)

Die Stormers en die Bulls het die afgelope naweek vir die sogenaamde ‘ronde van 16’ van die Kampioenskap gekwalifiseer en die Sharks, Lions en Cheetahs het die laaste 16 in die Uitdaagreeks gehaal.

Die Suid-Afrikaanse prestasie is werklik uitstekend. Ons spelers moet gedurig heen en weer vlieg om aan die twee genoemde kompetisies en ook die Verenigde Rugbykompetisie (VRK) deel te neem, maar kan nie, soos sake trans staan, van eersteklasgeriewe op vlugte na en van Suid-Afrika gebruik maak nie.

Dink jou maar in hoe manne soos Eben Etzebeth en Ox Nché intussen langs mekaar in hul “stoeltjies” van gemiddelde grootte vir ʼn lang reis moet sit!

Daar is darem die vooruitsig dat SA Rugby, ná die 2024/25-seisoen hul deel van die twee Europese kompetisie sal kry. Die afgelope seisoen moes die nasionale beheerliggaam R330 miljoen aan die oorsese deelname betaal, waarvan vervoer ʼn groot hap was.

  • ʼn Mens moet ook so ʼn tikkie ekstra lof aan die Cheetahs uitdeel wat slegs tot die Uitdaagreeks toegelaat is mits hulle hul “tuisveld” oorsee maak. In die 2022/23-reeks het hulle in Italië gespeel, en in die huidige seisoen is hul “tuisveld” in Amsterdam.

SA-spanne veg teen oorsese geld

Boonop – en dis iets waaraan ʼn mens selde dink en dit eenvoudig as vanselfsprekend aanvaar – lok die Europese spanne ook met groot bedrae geld van Suid-Afrika se heel beste spelers terwyl die SA-spanne dan sonder die gehalte-spelers moet klaarkom. En die SA Rand kan boonop nie teen die Euro, Britse Pond en Yen meeding om hul swakpunte aan te vul of die beste spelers te behou nie.

Daar is geen twyfel dat die Suid-Afrikaanse spanne se deelname ʼn groot inspuiting vir die kompetisie is, wat sy meeste toeskouers nog in 2022/23 kon aanteken nie.

  • Intussen bly dit ʼn vraag hoe die Engelse Premierligaklubs dit kan volhou om astronomiese salarisse te betaal, want van die oorblywende tien spanne in die liga (drie is verlede jaar weens bankrotskap deur die Rugby Football Union, Engeland se nasionale unie, geskors) moes nie minder nie as agt van die tien klubs in die 2021/22-seisoen uit hul aandeelhouersfondse delf om aan die gang te bly.

En ons praat hier van groot geld en van die sterker Premierligaklubs, soos hieronder blyk:

Bristol se £29,8 miljoen (meer as R707 miljoen) is die grootste bydrae wat die eienaar/ aandeelhouers aan ʼn klub moes betaal om te kan voortbestaan.

Die sterke Harlequins moes £12,7 miljoen (sowat R300 miljoen) van sy aandeelhouersfondse gebruik.

(Die syfers vir die Engelse klubs se 2022/23-seisoen is nog nie beskikbaar nie.)

Daar is natuurlik verskeie uiteenlopende redes vir die Engelse klubs se penarie, en die buitensporige kontrakfooie vir spelers is ongetwyfeld een van die redes – maar om te sê hulle algemene middelmatige bywoningsyfers vir wedstryde is een van die vernaamste redes sal nie ver van die kol wees nie.

  • Dis wel nie Engelse rugbyspanne nie, maar kyk net na die VRK se bywoningsyfers verlede seisoen, waar die vier Suid-Afrikaanse spanne die beste bywoning van die voorste vyf spanne het (Die Cheetahs speel nie in die kompetisie nie):

Bulls: 95 405
Stormers: 93 204
Sharks: 84 870

Leinster: 57 675

Lions: 56 043
Munster: 53 534
Connacht: 50 618

Zebre: 48 104
Glasgow: 47 813
Ulster: 44 406
Dragons: 43 019
Benetton: 40 524

Edinburgh: 39 931

Scarlets: 37 748
Cardiff: 37 583
Ospreys: 25 756.

’n Volgepakte Loftus Versfeld. (Foto: GB Jordaan.)

Pluimpie vir Graeme Smith

Graeme Smith.
(Foto: Twitter/KSA)

Die voormalige krieketkaptein van die Proteas, Graeme Smith, het as direkteur van die huidige, uiters suksesvolle, SA20-reeks verlede jaar ʼn nuwe konsep suksesvol van stapel gestuur en vanjaar daarop gebou.

Hoewel krieket steeds finansieel swaar trek na die verkwistende invloed van die voormalige uitvoerende hoof, Thabang Moroe, tussen 2017 en 2019, het die SA20-reeks binne twee jaar die ondersteuners weer laat lig sien in jare waar die gesukkel op internasionale front en die sukkelende finansiële situasie die sport kwaai geknou het.

As ʼn tradisionalis is ek egter baie bekommerd dat die kitskrieket vir toetskrieket oor verloop van nog ʼn paar jaar doodknel kan wees. Dit is maar ʼn kwessie van vraag en aanbod en dus uiteindelik geld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.