Mening: Ons rugby en krieket gedy op alle vlakke

Quinton de Kock en Marnus Labuschagne. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die oorweldigende belangstelling van die ganse Suid-Afrika in die aanloop na die Rugbywêreldbeker, veral ná die yslike pak wat die Bokke die All Blacks op Twickenham gegee het, het die aandag so effe van heelparty ander belangrike sportgebeure afgetrek.

En hier praat ek veral van ons twee grootste toeskouersporte, krieket en rugby.

Krieket het darem die verbeelding werklik aangegryp nadat die Proteas vroeër die maand van ʼn agterstand van 0-2 in die eendaagse reeks terugbaklei en die reeks 3-2 teen Australië gewen het. Dit was die ideale proeflopie vir die krieketmanne wat vanaf 5 Oktober in die vierjaarlikse Wêreldtoernooi van tien spanne sal meeding.

Die lekkerte was ook die groot skares wat opgedaag het.

Dit sal ʼn taai toernooi wees, met die tien spanne wat elk teen elke ander land speel. Suid-Afrika speel sy eerste van nege wedstryde op 7 Oktober teen Sri Lanka en sy laaste wedstryd is op 10 November teen Afghanistan.

Dus, nege wedstryde in 34 dae. ʼn Wedstryd elke drie, vier dae klink nie vreeslik nie, maar tussen die wedstryde moet daar gepak en gereis word. Verder moet hulle ook, tydens netoefeninge, voor die volgende wedstryd probeer uitwerk hoe die kolfblad moontlik kan reageer.

Die voorste vier spanne speel in die halfeindronde met die eindstryd op 19 November.

  • Suid-Afrika het nog nooit ʼn Krieketwêreldbeker gewen nie. Hierdie keer word dit ekstra moeilik gemaak op die stadiger kolfblaaie van Indië waar draaiers behoort te baljaar en die tuisspan die gunsteling is.

Tabraiz Shamsi vier’n paaltjie. (Foto: Rodger Bosch/AFP.)

Gelukkig het dit teen Australië gelyk of ons twee draaiers, Keshav Maharaj en Tabraiz Shamsi, op hul stukke is. Maar dit sal meer as dié twee draaiers op hul beste verg. Onthou, vir die kolwers is daar ook die stadiger blaaie om aan gewoond te raak.

Heelparty lede van die Proteas het weliswaar in die taamlik onlangse IPL in Indië gespeel. Daar was die wedstryde egter net 20 boulbeurte per span, wat op mik en moker geskoei is. Die spelers sal dus vinnig by die vreemde blaaie na eendaagse krieket met sy 50 boulbeurte per span moet aanpas.

Intussen speel ons vroue ook tans toetse en vertoon heel skaflik, met een eendaagse wedstryd elk in die reeks teen Nieu-Seeland.

Krieketveiling vir die SA20-reeks

Die krieketveiling vir die SA20-reeks wat verlede seisoen so gewild was, is Woensdag gehou. Daar was veel minder spelers, slegs 21, wat op die veiling gekoop is. Dit volg nadat die meeste spanne reeds die grootste gros van hul spelers gekies het.

Die tweede SA20-reeks begin op 10 Januarie.

PLAASLIKE RUGBY

Rugbyklubs se nasionale kampioenskap by halfeindronde

Intussen is ons klubrugby se uitklopreeks om die Gold Cup weer die eerste keer sedert 2019 en die Covid-pandemie hervat en word die halfeindstryde die naweek gespeel. Dit is die nasionale kampioenskap van die sogenaamde “oop klubs” – die klubs sonder die universiteite wat natuurlik aan die Varsitybekerreeks deelneem.

Daar is 32 klubs vanuit die bonde genooi.

Ná die afgelope naweek het Crusaders van die SWD, saam met College Rovers van die Sharks en twee spanne van die Blou Bulle se Carltonliga, Naka en Northam Rhinos (Limpopo), na die komende naweek se halfeindronde deurgedring.

Die uitslae van die kwarteindronde verlede naweek:

Valsbaai (WP) 10, Naka (Blou Bulle) 24

Northam Rhinos (Limpopo) 53, Progress (OP) 14

Raiders (Goue Leeus) 17, College Rovers (Sharks) 60

Pretoria Harlequins (Blou Bulle) 51, Crusaders (SWD) 54

Dit is so amper-amper of daar was drie spanne van die Carltonbekerreeks in die halfeindronde, met die dat die Quins net-net teen Crusaders vasgeval het.

  • Saterdag speel Naka tuis teen Crusaders en College Rovers is in Durban die gasheer vir die Rhinos, wat terloops ʼn paar weke gelede in die doodsnikke van die Carltonbeker se eindstryd teen Naka die knie moes buig.

Argieffoto (Foto: Shutterstock)

Die reeks het in die geheel goeie rugby uitgestal, maar dit is kommerwekkend dat daar oor die algemeen nie wafferse teenstand van die plattelandse spanne was nie. Crusaders (SWD) en Northam se Rhinos (Limpopo) het egter uitgeblink en die halfeindronde gehaal – maar verder was die gehalte maar aan die dun kant.

Die ander wat darem die eerste ronde oorleef het, is Progress (Grens), Oos-Londen Polisie (Grens), Sasol Secunda (Valke) en die Wolverines (Limpopo).

Dit is ook kommerwekkend dat die aanslag van die Goue Leeus se klubs nie veel opgelewer het nie. Hulle het wel ʼn sterk klubkompetisie met Pirates wat vanjaar hul eerste liga gewen het waaraan drie Varsitybekerspanne (UJ, Wits en ook die Pukke van die Luiperds) deelgeneem het.

  • Die eerste oorgrens-kompetisie vir o.20-klubspanne, die Uxi-reeks, het vanjaar plaasgevind. Spanne van sewe bonde het deelgeneem.

Die kompetisie is deur die Blou Bulle Rugbyunie en Uxi se internasionale sport-instituut aangebied met die doel dat jong klubspelers buite hul eie bonde teen ander spanne kon speel. Die land is in drie streke, Noord, Sentraal en Suid, verdeel.

Tukkies het verlede week na die eindstryd deurgedring nadat hulle die Pukke met 34-32 in ʼn puik wedstryd getroef het. Naka het in Kaapstad 12-15 teen Hamiltons se o.20’s vasgeval.

Tuks speel Saterdag tuis in die eindstryd teen Hamiltons in die kompetisie waar daar R300 000 op die spel is.

Vroeër, in die kwarteindronde, het Naka die Ikeys met 38-15 afgeransel en Tukkies het met 57-37 teen die Cheetahs se CUT gewen.

Sewes op skolevlak

Dit was ook lekker om te sien dat van die bonde nou weer sewestoernooie vir o.15’s en o.17’s  aanbied.

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie, was ʼn man wat ʼn aantal jare gelede ʼn groot rol gespeel het om sewes op nasionale vlak onder skole aan te moedig met ʼn nasionale kompetisie wat by skole gespeel is.

In ʼn selfoon-boodskap betreur Strauss die afgelope week dat die (senior) provinsiale toernooi vir sewes nie meer plaasvind nie.

Intussen het Monnas die Noordvaal-sewestoernooie vir o.15 en -17-spelers aangebied.

Die onder 15’s van Zwartkop in Pretoria het 22-21 teen Monnas gewen en Noordheuwel het in die doodsnikke die wenpunte aangeteken en Garsfontein om die o.17-titel geklop.

Vrouerugby

Vrouerugby het deeglik posgevat – nie net op provinsiale vlak nie, maar ook by ʼn klompie skole en op o.20-vlak, waar provinsiale wedstryde nou ingestel is.

Die Bulls Daisies het vanjaar die provinsiale senior titel met 69-8 in die eindstryd teen die WP gewen, en meisies het nou ook provinsiale ouderdomstoernooie soos die seuns se Craven- en Grant Khomo-week.

Intussen speel die nasionale vrouespan tans in vriendskaplike wedstryde met die oog daarop om eersdaags aan die WXV deel te neem.

Dit is ʼn nuwe reeks internasionale toernooie van Wêreldrugby om vrouerugby te help versterk om mettertyd na tot hoër vlakke te promoveer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Rassie Erasmus werk seker hard om SA rugby gesond te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.