Nadal, Duplantis en Hamilton onder Laureus-benoemdes

Rafael Nadal. Foto: Twitter.

Politiek en sport is deesdae onafskeidbaar. En om dié rede is Lewis Hamilton en Naomi Osaka waarskynlik twee van die gunstelinge om met die louere by die gesogte Laureus-sporttoekennings weg te stap.

Volgens Hamilton is hy dankbaar dat hy in die onsekerheid van die wêreldwye Covid-19-pandemie agter die stuur van sy renmotor kon klim.

“Ek is trots vir wat ons as ’n span kon bereik, maar ek is selfs meer trots op ons reis om motorsport meer verteenwoordigend te maak. Nelson Mandela was ’n dryfkrag agter die Laureus-toekennings en ek is daarvan oortuig dat hy ons in elke opsig sou ondersteun om sport tot almal se voordeel aan te wend,” het Hamilton gesê.

Hy kan egter taai teenstand van Spanje se Rafael Nadal en Swede se Armand Duplantis verwag.

Naomi Osaka. Foto: Twitter.

Op haar beurt het Osaka – wat pas die Australiese Tennisope gewen het – gesê dat die gesogte toekenning jong mense wêreldwyd inspireer.

“Ons leef in ’n era waarin sport ’n groot verskil kan maak en in baie opsigte die wêreld kan verander.”

Geen Suid-Afrikaanse span of sportster is vir die toekenning benoem nie.

Sportman van die jaar:

  • Lewis Hamilton: Wen sy sewende F1-wêreldkampioenskap.
  • Joshua Cheptegei: Verbeter die wêreldrekord in die 5 000 m en 10 000 m.
  • Armand Duplantis: Verbeter paalspring-wêreldrekords.
  • LeBron James: Wen sy vierdie NBA-titel.
  • Robert Lewandowski: Skiet 55 doele vir ’n seëvierende Bayern München-span.
  • Rafael Nadal: Wen sy 13de Franse Ope-titel en 20ste Grand Slam.

Sportvrou van die jaar:

  • Anna van der Breggen: Skitter by die Wêreld-padfietskampioenskap.
  • Federica Brignone: Eerste Italiaanse vroueskiër om met die louere by die Wêreldbekerkampioenskap weg te stap.
  • Brigid Kosgei: Wen Londen-marathon met meer as drie minute.
  • Naomi Osaka: Wen haar derde Grand Slam-titel op 22-jarige ouderdom.
  • Wendie Renard: Kaptein van Lyon se vrouesokkerspan wat hul vyfde agtereenvolgende Kampioene-ligatrofee ingeoes het.
  • Breanna Stewart: Lei die Seattle Storm tot kampioenskapglorie.

Span van die jaar:

  • Argentynse rugbyspan: Klop die All Blacks vir die eerste keer nóg.
  • Bayern München: Wen ’n rits sokkertitels.
  • Kansas City Chiefs: Hou die Super Bowl vir die eerste keer sedert 1970 omhoog.
  • Liverpool: Wen die Engelse Premierliga vir die eerste keer in 30 jaar.
  • LA Lakers: Wen die NBA-kampioenskap
  • Mercedes Benz: Stap vir die sewende agtereenvolgende jaar met die F1-louere weg.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.