Netbal: ‘Proteas moet meer intens oefen’

Erin Burger. Foto: Facebook

Erin Burger. Foto: Facebook

Hoewel die Proteas Saterdag nie opgewasse was teen Australië in die eerste wedstryd van die nuwe Quad-netbalreeks nie, was die wedstryd in Auckland ʼn waardevolle leerskool. Die Proteas het 43-68 verloor.

Die punteverskil was egter beduidend kleiner as in hul vorige ontmoeting toe die Australiërs, die huidige wêreldkampioen, hulle met tien doele in die wêreldtoernooi geklop het.

Dit word ook nie makliker in Australasië nie. Die Proteas, die wêreld se vyfde beste span, se volgende teenstander is Nieu-Seeland, wat die eerste plek op die wêreldranglys beklee. Dié wedstryd word Woensdag in Hamilton beslis.

Erin Burger, die Proteas se ervare senter, kan getuig hoeveel dit van die spelers gaan verg om by die blitsvinnige Nieu-Seelanders te bly. Sy het tydens die opwarmingswedstryd teen Nieu-Seeland A ʼn GPS-toestel gedra en die uitslag was ʼn openbaring.

Burger het nege kilometer in net drie kwarte van die wedstryd op die baan afgelê. Dit verdwerg die drie kilometer wat sy tydens ʼn volle provinsiale wedstryd in die onlangse Spar Nasionale Kampioenskap afgelê het.

Dié lesing het die gebrek aan intensiteit in die Proteas se spel duidelik uitgewys. Die afleiding is dat hulle lank oefen, maar nie intens nie.

Burger glo nietemin dat dit onder die afrigting van Norma Plummer en Nicole Cusack sal verbeter. Plummer is ʼn ervare afrigter wat al twee wêreldbekertitels met die Australiese span verower het. Die Proteas is gewoond om hard en lank te werk. Nou gaan die klem meer daarop val om effektief te oefen.

♦ Burger se eksperiment beklemtoon die vinnige pas waarteen internasionale netbal gespeel word en die Proteas moet ʼn vlak bereik waar hulle ʼn volgehoue poging teen dié tempo vir 60 minute kan handhaaf.

Plummer sê hulle besef daar lê baie werk voor, maar hulle maak goeie vordering en die spelers weet wat van hulle verwag word. Sy sê die talent is gewis daar en sy het ʼn pluimpie vir die span gehad oor die groot verbetering in hul spel sedert verlede jaar se wêreldkampioenskap.
Blootstelling aan die gehalte netbal in die Quad-reeks kan die Proteas help om een van die drie top-lande ter wêreld te wees, meen Plummer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.