Achilles kortwiek Ngcobo se Dubai-planne

Sandile Ngcobo in sy Blitsbok-speeldae. (Photo by Renee McKay/Getty Images)

Sandile Ngcobo sal nie die Blitsbokke na Dubai vir die eerste toernooi van die SVNS-reeks vergesel nie.

Suid-Afrika se seweshoofafrigter het sy achilles‑sening tydens ʼn oefensessie in aanloop tot die toernooi beseer en moes ʼn operasie ondergaan.

Ná ʼn opvolgbesoek vandeesweek aan die chirurg is daar besluit dat hy nie saam met die span na die Verenigde Arabiese Emirate sal reis nie. Philip Snyman gaan sy skoene volstaan, terwyl Marius Schoeman ook sy afrigtersvaardighede sal uitstal.

“Ek het baie vertroue in Philip se vermoë om die span volgende week te lei. Die senior spelers sal hom goed ondersteun en Marius sal ook vir afrigtersbystand sorg. Ek sal steeds die wedstryde volg en ná afloop van elke wedstryd die afrigterspan bystaan,” het Ngcobo gesê.

Die 34-jarige oudspeler sal weer betyds vir die Kaapstad-toernooi op sy pos wees.

Hy was vroeër vanjaar krities oor die Blitsbokke se geploeter in ʼn paar van die toernooie en het ná die sewes‑aksie in Los Angeles gesê dat die span se ondersteuners nie sulke spel verdien nie.

Die nasionale sewesspan het toe onder meer teen Uruguay en Ierland in die groepfase verloor, waarna Fidji en Samoa wegholoorwinnings in die uitspeelwedstryde behaal het.

“Dit was amper hartverskeurend om dinge van langs die kantlyn dop te hou. Die spelers het lusteloos en sonder enige ywer op die veld gelyk,” het Ngcobo destyds gesê.

Hy is egter oorgehaal om dinge reg te stel – die Olimpiese Spele word immers volgende jaar in Parys aangebied.

Die Blitsbok-span vir die Dubai-sewesavontuur word Vrydag bekendgemaak en die groep vertrek Maandag na die Verenigde Arabiese Emirate.

  • Groepe vir Dubai:

Groep A: Nieu-Seeland, Kanada, Samoa en Suid-Afrika

Groep B: Argentinië, Spanje, Australië en Ierland

Groep C: Fidji, VSA, Frankryk en Groot-Brittanje.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.